Irene buiteklub bied puik Davisbeker tennistoernooi aan
Die Irene Buiteklub het baie komplimente gekry na die afgelope naweek se suksesvolle Davisbekertoernooi op dié klub se bane. Ten spyte van slegte weer, wat die verkeer beïnvloed het, was die toernooi ‘n reuse sukses.
Die plaaslike tennisster, Rik de Voest, was Sondag sy land se held toe hy Suid-Afrika se oorwinning in hul Davisbekerstryd teen Monaco verseël het met ’n puik oorwinning in ’n enkelspelwedstryd teen Benjamin Balleret.
Net Vrydag het De Voest tennisliefhebbers nog bekommerd gehad toe hy teen alle verwagting in sy eerste enkelspelwedstryd in dié toernooi, wat op die bane van die Irene Buiteklub in Centurion gespeel is, verloor het.
Om sake te vererger het De Voest verloor teen Romain Arneodo, wat 358 plekke laer as hy op die wêreldranglys lê. Dit was ’n taai stryd oor vyf stelle, maar uiteindelik het die man van Monaco die eerste bres vir sy land geslaan, nadat spel aanvanklik weens reën vertraag is.
Suid-Afrika se ander enkelspelspeler, die oud WP-rugbyspeler Calla Scholtz se seun, Nik, het egter sake gelykop gemaak deur vriend en vyand te verras in sy enkelspelstryd teen Monaco se Benjamin Balleret. Scholtz, wat tans nommer 952 op die wêreldranglys is, het sy teenstander, wat nommer 276 op die enkelspel ranglys is, ook in vyf stelle geklop.
Hierna het Suid-Afrika se dubbelspelpaar, die Australiese Ope finalis Raven Klaasen en Ruan Roelofse, hul land met 2-1 laat voorloop toe hulle die dubbelspelwedstryd teen Thomas Oger en Guillaume Couillard in vyf stelle gewen het.
De Voest het hom daarna op Sondag reggeruk en Balleret maklik in drie stelle verslaan om die oorwinning vir Suid-Afrika te verseël. Die laaste wedstryd tussen Scholtz en Romain Arneodo was dus net van akademiese belang en dit het dus geen effek op die uitslag gehad toe Scholtz weens ’n besering moes onttrek nie.
Suid-Afrika het die toernooi dus met 3-2 gewen. Hul volgende teenstander in groep twee van die afdeling vir Europa/Afrika is Litaue. Die Noord-Europese land se Davisbekerspan sal Suid-Afrika in April besoek en die kanse is blykbaar goed dat die toernooi weer by die Irene Buiteklub aangebied sal word. Die toernooi se reëlings was puik en ten spyte van die reën, wat veral groot verkeersprobleme veroorsaak het, is dit baie goed deur die publiek ondersteun.
