Opwindende nuwe skolereeks kan klubrugby laat herleef
Die Blou Bulle-rugbyunie het onlangs in samewerking met die sportpromotor, Willem Strauss, ‘n opwindende nuwe skolerugbykompetisie bekendgestel wat die vermoë het om klubrugby in die toekoms weer in ere te herstel. Dit is geen geheim dat klubrugby sedert die koms van die professionele era ernstig getaan het nie. Een van die groot probleme wat klubs …
Die Blou Bulle-rugbyunie het onlangs in samewerking met die sportpromotor, Willem Strauss, ‘n opwindende nuwe skolerugbykompetisie bekendgestel wat die vermoë het om klubrugby in die toekoms weer in ere te herstel. Dit is geen geheim dat klubrugby sedert die koms van die professionele era ernstig getaan het nie. Een van die groot probleme wat klubs ondervind is dat jong spelers nie vanself by klubrugby betrokke raak nie, en net die klubs wat oor die geld en mannekrag beskik om aggressief werwing en bemarking te doen, kry dit reg om suksesvol in die ligas mee te ding. Die nuwe kompetisie sal geborg word deur die koffie-groothandelaar, Enrista, en dit is daarop gemik om die oorgang van spelers tussen skole- en klubrugby te vergemaklik en meer spelers vir klubrugby te werf. Die toernooi sal dus bekend staan as die Enrista Future Blue Bulls-kompetisie. coVolgens Strauss het navorsing getoon dat meer as 80% van alle skolespelers ná hul skoolloopbane verlore raak vir die sport. Spelers wat vir hul skole se eerste span speel glo dat hulle nie ‘n kans het om toprugby te speel nie as hulle nie by die unie se Cravenweekspan of een van die ander spanne op nasionale skoletoernooie betrokke was nie. Strauss het gesê die geskiedenis het bewys dat daar wel ‘laat ontwikkelaars’ is, of spelers wat oor die hoof gesien word deur Cravenweek-keurders, maar wat later top-spelers word. Manne soos die Springbokke Marcell Coetzee en Juan Smith het albei eers ná skool toprugby begin speel sonder om ooit by die Cravenweek betrokke te wees. Die Lions stut, Jacques van Rooyen, is ook ‘n voorbeeld van ‘n speler wat via klubrugby raakgesien is en deesdae in die superrugby-reeks vir die Lions uitdraf. Volgens Strauss glo hulle dat honderde spelers met die potensiaal om Springbokke te word, jaarliks vir die spel verlore gaan omdat hulle ophou rugby speel ná skool. Hierdie nuwe toernooi sal aan spelers die geleentheid bied om aan klubrugby blootgestel te word, wat weer aan klubs die geleentheid sal bied om hulle te werf vir hul o.19- en o.21-spanne. Dit sal nie net die Blou Bulle se junior ligas dramaties verbeter en versterk nie, maar dit sal ook dien as ‘n voedingsbron vir klubs. Die logiese gevolg is dat die standaard van klubrugby mettertyd sal verhoog en top-klubspelers behoort dus weer in aanvraag te wees by provinsiale spanne. Volgens die struktuur van die kompetisie sal 46 verskillende skole onder die agt Carltonbekerklubs verdeel word. Spelers uit die skole sal dan deur ‘n spesiale keurkomitee – die Cravenweek-keurders en afrigters van die skole – genooi word om deel te word van ‘n spesifieke klub se spesiale o.19-span. Dié spanne sal net uit matrikulante bestaan om seker te maak dat hulle die volgende jaar vir klubrugby beskikbaar sal wees, terwyl spelers wat vir die Blou Bulle se amptelike skolespanne gekies word nie vir die spanne in aanmerking sal kom nie. Die spanne sal dan bekend staan as die ‘Future Tuks’, ‘Future Police’, ‘Future Centurion’, ‘Future Oostelikes’, ‘Future Valke’, ‘Future Naka Bulle’, ‘Future Harlequins’ en ‘Future Vikings’ (TUT). Hulle sal in ‘n spesiale toernooi op Loftus deelneem wat in die Julie skoolvakansie plaasvind. Bel Ferdie Niemand, voorsitter van die Blou Bulle-skolerugbyvereniging, by 084-548-1148.
