Sport

Bulls beëindig Sharks se onoorwonne rekord op Loftus Versfeld

‘n Mengsel van puik spel deur jong opkomende sterre en die kalmte en ondervinding van ou hande het die Bulls gehelp om die Sharks Saterdagaand op Loftus Versfeld met 23-19 te klop. Die Sharks het na Pretoria opgeruk as die groot gunstelinge en hulle was tot voor die wedstryd onoorwonne in vanjaar se SupeRugby toernooi. …

‘n Mengsel van puik spel deur jong opkomende sterre en die kalmte en ondervinding van ou hande het die Bulls gehelp om die Sharks Saterdagaand op Loftus Versfeld met 23-19 te klop.

Die Sharks het na Pretoria opgeruk as die groot gunstelinge en hulle was tot voor die wedstryd onoorwonne in vanjaar se SupeRugby toernooi. Hulle is egter teruggebring aarde toe, nadat hul ondersteuners en baie “kenners” skynbaar geglo het dat dit ‘n formaliteit is dat die Sharks vanjaar uiteindelik as SupeRugby kampioene gekroon sal word.

Die Sharks het hul skakelpaar baie vroeg in die wedstryd met beserings verloor en dit het waarskynlik ‘n invloed op hul spel gehad. Of die besering van Cobus Reinach so ‘n groot invloed op die wedstryd gehad het, is te betwyfel, maar Pat Lambie se besering het die manne van Durban beslis ontwrig. Hoewel die jong Tim Swiel nie sleg gedoen het in sy plek nie, bly Lambie op sy beste ‘n wedstrydwenner.

Die Bulls se oorwinning is egter voorlangs bewerk, waar die Sharks swaar gekry het in die vaste fasette. Eers in die laaste tien minute van die wedstyd, toe die Bulls se hele voorry deur reserwes vervang is, het die Sharks beter begin doen in die skrums. In die lynstane het die veteraan, Victor Matfield, beslis vooraf sy huiswerk gedoen en hy het die Sharks se jong slotte harde bene laat kou.

Een van die Bulls se onbesonge helde was weer die ramkat baljagter, Deon Stegmann. Hy was ‘n monster in die los in die 50 minute wat hy op die veld was. Dewald Potgieter het ook gespeel asof hy nooit weg was nie. Dié hardwerkende agtsteman, wat eers ‘n week gelede vanaf Japan in Pretoria aangemeld het, se werkverrigting was verstommend en saam met die belowende jong Jacques du Plessis het hy en Stegmann nie ‘n tree teruggestaan vir die Sharks se veelgeroemde Springbok lostrio nie.

Marcell Coetzee van die Sharks was baie goed en Willem Alberts was ook op sy beste. Ryan Kankowski was boonop baie waardevol vir die Sharks in die lynstane, maar op die aand se spel beoordeel was Stegmann, Du Plessis en Potgieter die beter lostrio.

Agter die Bulls se pak voorspelers wat genoeg momentum kon opbou was Francois Hougaard weer skerp, terwyl Jacques-Louis Potgieter sake goed beheer het. Die Bulls se twee senters, Jan Serfontein en JJ Engelbrancht het ook heelwat beter gevaar as Francois Steyn en Sibusiso Sithole van die Durbaniete.

Die Bulls het die Sharks én sommige van hul eie toeskouers verras deur hul spel baie goed af te wissel. Hul taktiese skopwerk het nie die wedstryd oorheers nie, maar dit is wel baie goed uitgevoer. Daarby het hulle die Sharks laat bontstaan as hulle die bal begin rondgooi het en hul twee drieë het gevolg na goeie aanvalswerk van die agterspelers.

Hoewel die Bulls na hierdie oorwinning steeds onder die top ses spanne op die punteleer tel, sal hul veldtog eers werklik vorm begin aanneem as hulle volgende week op Loftus Versfeld met die verdedigende kampioene, die Chiefs, kan afreken. As hulle dus binne twee weke albei die voorlopers kan klop, sal dit nie net hul selfvertroue laat toeneem nie, maar ook ‘n bewys wees dat hulle wel vanjaar ernstige aanspraakmakers vir ‘n plek  die uitspeelrondtes is.

PrevNext
PUNTEMAKERS:

BULLS: Drieë: Jacques du Plessis, JJ Engelbrecht. Doelskoppe: Jacques-Louis Potgieter (2). Strafdoele: Jacques-Louis Potgieter (1), Hanré Pollard (1). Skepdoele: Jacques-Louis Potgieter (1)

SHARKS: Drieë: Willem Alberts. Doelskoppe: Tim Swiel (1). Strafdoele: Francois Steyn (4)

Spanne:

Bulls: Jurgen Visser, Sampie Mastriet, JJ Engelbrecht, Jan Serfontein, Bjorn Basson, Jacques-Louis Potgieter, Francois Hougaard, Dewald Potgieter, Jacques du Plessis, Deon Stegmann, Victor Matfield (kaptein), Paul Willemse, Werner Kruger, Callie Visagie, Dean Greyling.
Plaasvervangers:  Bongi Mbonambi, Morné Mellett,  Marcel van der Merwe, Grant Hattingh, Jono Ross, Piet van Zyl, Handré Pollard,  Ulrich Beyers.

Sharks:  SP Marais, JP Pietersen,  Sibusiso Sithole,  Frans Steyn, Lwazi Mvovo, Patrick Lambie, Cobus Reinach, Ryan Kankowski, Willem Alberts, Marcell Coetzee, Stephan Lewies, Anton Bresler, Jannie du Plessis, Bismarck du Plessis (kaptein), Tendai Mtawarira.
Plaasvervangers:  Kyle Cooper, Dale Chadwick, Lourens Adriaanse, Etienne Oosthuizen, Lubabalo Mtembu, Charl McLeod, Tim Swiel, Andre Esterhuizen.
 
Skeidsregter: Mike Fraser (Nieu-Seeland)
Assistent skeidsregters: Craig Joubert, Jaco van Heerden
TV skeidsregter: Deon van Blommenstein

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button