Emosionele afskeid vir Rik de Voest tydens Davisbekertoernooi in Irene
Die Davisbeker-toernooi waarin Suid-Afrika eerskomende naweek by die Irene-buiteklub teen Litaue te staan kom het hierdie week ’n nuwe kinkel gekry toe Rik de Voest aangekondig het dat dit sy laaste verskyning in die kleure van die nasionale span sal wees. De Voest het Dinsdag by ’n nuuskonferensie in Irene gesê dat hy lank oor …
Die Davisbeker-toernooi waarin Suid-Afrika eerskomende naweek by die Irene-buiteklub teen Litaue te staan kom het hierdie week ’n nuwe kinkel gekry toe Rik de Voest aangekondig het dat dit sy laaste verskyning in die kleure van die nasionale span sal wees. De Voest het Dinsdag by ’n nuuskonferensie in Irene gesê dat hy lank oor sy besluit gedink het, maar dat hy uiteindelik besluit het dat verskeie faktore hierdie toernooi die ideale geleentheid maak om sy uittrede aan te kondig. Hy het aan die media erken dat hy waarskynlik baie emosioneel sal wees tydens die naweek se toernooi, aangesien hy op die baan sal speel waar hy sy tennis as jong seun geleer het. Hy het in Centurion grootgeword en op die bane van die Irene-buiteklub sy tande as junior speler gesny. Nog ‘n faktor wat De Voest se aankondiging vergemaklik het is die feit dat die naweek se toernooi sy 20e sal wees as deel van die Suid-Afrikaanse Davisbeker-span. Hy het gesê dat hy dit as ‘n voorreg beskou om so lank in die span te kon speel in sy professionele tennisloopbaan, wat reeds 15 jaar duur. Hy word slegs die derde Suid-Afrikaner wat hierdie prestasie behaal en daarom het die Internasionale Tennisfederasie (ITF) besluit om Saterdag tydens die toernooi aan hom ‘n spesiale toekenning te oorhandig om hierdie prestasie te vier. Die oorhandiging van die toekenning sal rondom die middagetebreek plaasvind. De Voest, wat deesdae in Kanada gevestig is, se vrou verwag ook binnekort hul eersteling en dit was volgens hom die derde rede om sy uittrede aan te kondig. Intussen het die Suid-Afrikaanse kaptein en ook ‘n Pretorianer, John-Laffnie de Jager, gesê dat hy nog nie besluit het wie saam met De Voest in die enkelspelwedstryde betrokke sal wees teen Litaue nie. Die dubbelspelspesialis Raven Klaasen, wat in Januarie vanjaar saam met sy dubbelspelmaat Isak van der Merwe een van die sterre was toe Suid-Afrika met Monaco afgereken het, sal hierdie naweek weer in die Suid-Afrikaanse kleure in aksie wees. Hy sal hierdie keer waarskynlik met een van Ruan Roelofse of die oud-Pretorianer, Jean Andersen, kombineer in die dubbelspel, terwyl die verwagting is dat Dean O’Brein saam met De Voest in die enkelspelwedstryde betrokke sal wees. Die stadion rondom die baan waar wedstryde gespeel sal word is intussen vergroot weens die besonderse belangstelling by die tennispubliek. Die klub is baie gewild by beide die toeskouers en die spelers weens verskeie redes. Volop parkering is beskikbaar en genoeg te ete en te drink sal te koop aangebied word, terwyl die rustige atmosfeer by die klub bydra tot die gewildheid daarvan. Toeskouers kry ook die geleentheid om met die spelers kennis te maak, aangesien hulle vrylik tussen die toeskouers beweeg tussen wedstryde. Kaartjies vir die toernooi sal steeds by die buiteklub se hek beskikbaar wees. Navrae: Deme Symeonides by 072-096-9830.
