Katvis hengelaar van Pretoria stel nuwe rekords op
Vir Hennie Moller van die Centurion Hengelklub word wêreldrekords as hengelaar deesdae ’n gewoonte. Moller is reeds die houer van die Suid-Afrikaanse rekord vir die grootste baber wat in plaaslike waters gevang is. Sy voorliefde om dié katvisse te vang het hom ook al drie wêreldrekords besorg. Twee van hierdie rekords het te doen met …
Vir Hennie Moller van die Centurion Hengelklub word wêreldrekords as hengelaar deesdae ’n gewoonte. Moller is reeds die houer van die Suid-Afrikaanse rekord vir die grootste baber wat in plaaslike waters gevang is. Sy voorliefde om dié katvisse te vang het hom ook al drie wêreldrekords besorg. Twee van hierdie rekords het te doen met die lynklas waarmee hy gehengel het, terwyl die ‘All Tackle’-wêreldrekord vir die grootste baber wat ooit gevang is, ook agter sy naam pryk. Met ’n onlangse besoek aan die Oranjerivier, waar Moller gewoonlik babers gaan vang, het hy gehoop om sy bestaande wêreldrekord vir die grootste baber te verbeter. Dié rekord staan op 92 pond (sowat 41kg), maar die heel grotes wou ongelukkig nie hierdie keer byt nie. Normaalweg gebruik hy onderbek (Silver Labeo) of karpkop vir aas, maar Moller het hierdie keer ’n ou tegniek gebruik om klein babers as aas te gebruik om die grotes te lok. Met hierdie tegniek het hy beperkte sukses behaal, want die grootste vangs van die uitstappie is op dié manier ingekatrol. Ongelukkig was dié baber nie groot genoeg om sy rekordvangs van die verlede te breek nie. Hoewel Moller nie die algehele rekord kon verbeter nie, het hy tog daarin geslaag om na dié hengelekspedisie aansoek te doen vir vier nuwe wêreldrekords. Drie van hierdie rekords hou verband met lynklasvangste, terwyl die vierde te doen het met die langste baber wat ooit gevang is. Moller, ’n offisier in die Lugmag, vertel dat hy waarskynlik in die verlede baie langer babers gevang het, maar dat hy nie beskik het oor die amptelike meetstok wat vereis word deur die Internasionale Groot-/Sportvishengel Assosiasie nie. Hy het intussen die regte meetstok bekom en nou kan hy met een van sy onlangse vangste wel vir dié rekord aansoek doen. Moller en sy hengelgeselskap het ook ’n ander besonderse gebeurtenis beleef tydens hul uitstappie na die Oranjerivier. Dit is hul beleid om die babers weer vry te laat in die rivier as hulle klaar geweeg en gemeet is en as die fotosessie verby is. So het dit gebeur dat hy en sy broer, Jaco, binne 24-uur presies dieselfde baber gevang het. Dié vis kon sy geluk seker nie glo toe hy twee dae na mekaar gevang én weer vrygelaat is nie.