Sport

Litaue klop Suid-Afrika en De Voest neem afskeid

Rik de Voest se sprokiesafskeid van Davisbekertennis ná 20 toernooie het toe nie die afgelope naweek in Irene gerealiseer nie. Suid-Afrika se Davisbekerspan is uiteindelik met 3-2 deur ‘n jong span van Litaue geklop. Daar is vooraf heelwat aandag gegee aan die feit dat dit De Voest, ‘n oud Pretorianer, se laaste Davisbekertoernooi sou wees. …

Rik de Voest, wat in Irene grootgeword het en by die Irene Buiteklub as jong seun leer tennis speel het, is Saterdag tydens die Davisbekertoernooi tussen Suid-Afrika en Litaue deur die Internasionale Tennisfederasie vereer. Dit was sy 20ste en laaste toernooi in dié tennisformaat. Hier groet ‘n emosionele De Voest sy aanhangers, nadat hy sy uittrede uit internasionale tennis aangekondig het. Foto: GB Jordaan
Rik de Voest, wat in Irene grootgeword het en by die Irene Buiteklub as jong seun leer tennis speel het, is Saterdag tydens die Davisbekertoernooi tussen Suid-Afrika en Litaue deur die Internasionale Tennisfederasie vereer. Dit was sy 20ste en laaste toernooi in dié tennisformaat. Hier groet ‘n emosionele De Voest sy aanhangers, nadat hy sy uittrede uit internasionale tennis aangekondig het.
Foto: GB Jordaan

Rik de Voest se sprokiesafskeid van Davisbekertennis ná 20 toernooie het toe nie die afgelope naweek in Irene gerealiseer nie. Suid-Afrika se Davisbekerspan is uiteindelik met 3-2 deur ‘n jong span van Litaue geklop. Daar is vooraf heelwat aandag gegee aan die feit dat dit De Voest, ‘n oud Pretorianer, se laaste Davisbekertoernooi sou wees. Die 33-jarige speler het verlede week voor die begin van die toernooi aangekondig dat hy later vanjaar uit alle tennis gaan tree. Daar sou dus van die begin af baie emosie betrokke wees vir De Voest, wat boonop sy tennis as jong seun geleer het op dieselfde bane by die Irene-buiteklub waar die toernooi die afgelope naweek sou plaasvind. Om sy bydrae tot tennis vir Suid-Afrika te vier is De Voest boonop Saterdag deur die Internasionale Tennisfederasie (ITF) vereer weens die feit dat hierdie toernooi teen Litaue sy 20e in die kleure van Suid-Afrika sou wees. Suid-Afrika se Davisbekerspan het vroeër vanjaar op dieselfde bane met Monaco afgereken en indien hulle hierdie toernooi teen Litaue kon wen, sou hulle kon opskuif na die Euro-Afrika-groep een, wat ‘n baie positiewe stap vir plaaslike tennis kon wees. Die uitslag van die naweek se toernooi beteken egter dat die span van Litaue nou die eer sal hê om gepromoveer te word, terwyl Suid-Afrika steeds in die toekoms in hul huidige groep (Euro-Afrika-groep twee) sal meeding. Die Suid-Afrikaanse nie-spelende kaptein (afrigter), John-Laffnie de Jager, het verlede week effens verras met die aankondiging van sy span, toe hy die oudleerling van Waterkloof, Jean Andersen, as sy tweede beste speler naas De Voest aangewys het vir die toernooi teen Litaue. Hoewel Andersen sowat 120 plekke laer op die wêreldranglys lê as Ruan Roelofse, het De Jager aan die media gesê dat hy oortuig was dat Andersen se speelstyl die regte medisyne sou wees om die span van Litaue onkant te vang. Andersen beskik oor ‘n baie goeie afslaan, terwyl hy graag net toe beweeg en van daar sy teenstanders aanval. De Jager se taktiek het egter nie in die eerste enkelspelwedstryd van die toernooi gewerk nie en Andersen is redelik maklik (6-3, 7-6, 6-3) deur Litaue se beste speler, Ricardas Berankis, geklop. In die tweede wedstryd van die toernooi het De Voest sy staal gewys en die toernooitelling met 1-elk gelykop gemaak deur Litaue se tweedebeste speler, Laurynas Grigelis, in vier stelle (7-6, 7-6, 2-6, 7-6), te klop. Suid-Afrika se beste dubbelspelspeler, Raven Klaasen, het Saterdag ‘n groot rol gespeel om saam met Andersen die dubelspelwedstryd in Suid-Afrika se guns te beklink (3-6, 6-3, 6-3, 7-6) en die voortou te neem in die toernooi met ‘n telling van 2-1. Sondag het die wiele egter vir die Suid-Afrikaners afgekom toe hulle albei die beslissende enkelspel wedstryde verloor het. Berankis het eers in vier stelle (6-2, 6-4, 5-7, 7-5) met De Voest afgereken in die wedstryd tussen die twee lande se beste spelers. Hierna het De Jager weer verras deur Andersen met Roelofse te vervang vir die laaste en beslissende wedstryd teen Grigelis. Die man van Litaue het die eerste stel gewen, maar Roelofse het dapper probeer terugveg en die tweede stel ingepalm. Hierna het Grigelis se groter ervaring die deurslag gegee. Hy het twee stelle na mekaar gewen om die wedstryd en die toernooi in die guns van Litaue te beklink. Die volledige telling was 7-6, 3-6, 7-6, 6-4. De Jager het agterna aan Rekord gesê dat hulle uiteraard teleurgesteld is, maar dat hulle van die begin af geweet het dat hierdie toernooi die Suid-Afrikaners tot die uiterste sou beproef. Hy het gesê behalwe vir die feit dat Litaue se beste spelers baie hoër op die wêreldranglys is as hul Suid-Afrikaanse teenstanders, het hulle ook baie meer ervaring en daarom moes hy ‘n spesiale plan uitwerk om hulle te probeer klop. Die manne van Oos-Europa was dus van die begin af die gunstelinge en De Jager glo sy span het goed gedoen om tot die einde nog ‘n kans te hê om die toernooi te wen.

Volgens De Jager was die plan van die begin af dat Roelofse op die laaste dag teen Grigelis sou speel. Hy glo ook dat Roelofse die wedstryd kon wen. Hy was in die derde stel op ‘n stadium op die punt om op Grigelis se afslaan deur te breek, maar die geluk het teen hom gedraai. De Jager glo dat Roelofse die wedstryd sou wen as hy in daardie derde stel die valbylpot kon inpalm, maar hy kon die geleentheid nie aangryp nie.

Ten spyte van hierdie terugslag is De Jager egter steeds positief oor die toekoms. Hy het gesê dat daar heelwat jong Suid-Afrikaanse spelers is wat tans vir die Davisbekerspan oorweeg kan word. Hy hoop om in die volgende nege maande voor Suid-Afrika se volgende verpligting n die Davisbeker met die hulp van Tennis SA strukture in plek te kry om die span se voorbereiding te vergemaklik.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button