Sport

Herrie oor sportkwotas net ‘n verkiesingsfoefie?

Groot ongelukkigheid en verwarring heers onder verskeie sportadministrateurs en die publiek oor die minister van sport se onlangse dreigement om op te tree teen sportspanne wat nie aan sy nuutste kwota-vereistes voldoen nie. Fikile Mbalula, minister van sport, het ‘n week gelede die land geskok toe hy aangekondig het dat nuwe kwotas ten opsigte van …

Groot ongelukkigheid en verwarring heers onder verskeie sportadministrateurs en die publiek oor die minister van sport se onlangse dreigement om op te tree teen sportspanne wat nie aan sy nuutste kwota-vereistes voldoen nie.

Fikile Mbalula, minister van sport, het ‘n week gelede die land geskok toe hy aangekondig het dat nuwe kwotas ten opsigte van sport nog voor die verkiesing van 7 Mei in werking sal tree waarvolgens tot sestig persent van die land se sportspanne swart moet wees. Hy het gedreig dat sportspanne soos die Springbokke, die Proteas en Bafana Bafana verbied sal word om internasionaal deel te neem as hulle nie aan die kwotas voldoen nie.

Die vakbond Solidariteit het verlede week in ʼn brief aan Mbalula gesê sy voorneme dat nasionale sportspanne binnekort ʼn kwota van 60% swart spelers moet bevat, is teen die Wet op Gelyke Indiensneming wat kwotas verbied.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, het gesê spelers wat kontrakte met unies en maatskappye het, is ongetwyfeld werknemers en die Wet op Gelyke Indiensneming is op hulle van toepassing. “Die Wet op Gelyke Indiensneming magtig numeriese teikens maar verbied spesifiek kwotas. Dít wat minister Mbalula voorstel en in soveel woorde as kwotas bestempel, is derhalwe ʼn onwettige manier om rassetransformasie te bewerkstellig. As vakbond het ons professionele sportlui as lede en daarom het ons die volste reg om hierdie vrae te vra en die wettigheid van die besluit te toets” was Kruger se gevolgtrekking.

Advokaat Anton Alberts, VF woordvoerder oor sport het gesê die arrogansie en onkunde wat uit die voorstelle blyk, is verstommend. “Waar sport sedert die eerste rugby wêreldbekertoernooi in 1995 tot en met die laaste sokker wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika gebruik is om nasiebou te bevorder, word dit nou gebruik om verdeling en rassewrywing te veroorsaak”, het Alberts in ‘n verklaring gesê.

Die nuuste omstredenheid rondom minister Mbalula se standpunt het ook in die oorsese media neerslag gevind. Verskeie koerante in Australië en Nieu-Seeland het daaroor berig en selfs gespekuleer dat dit Suid-Afrikaanse spanne in die Superrugby toernooi se veldtogte kan ontspoor.

Suid-Afrika se sportspanne kan ook in die spervuur beland by internasionale beheerliggame as daar bevind word dat die plaaslike regering op ideologiese gronde inmeng by sportadministrasie.

Volgens Richard Papo, bemarkinsgbestuurder van die Blou Bulle Maatskappy, kry hulle die afgelope week navrae vanoor die hele wêreld oor hierdie omstrede saak. Papo wou egter nie kommentaar gelewer oor die kwessie nie. Dit is bekend dat die Blou Bulle een van die unies is wat groot teenkanting van hul ondersteuners gekry het oor die implementering van drastiese nuwe kwotas in die Vodacombeker toernooi.

Die Suid-Afrikaanse rugby-unie (SARU), waarvan die Blou Bulle ook lid is, was egter een van die vyf groot sportbeheerliggame wat hierdie week met Mbalula vergader het om sy skok-uitsprake te bespreek. Die ander was die beheerliggame van krieket, netbal, atletiek en sokker. Na die vergadering het verskeie belanghebbendes probeer om die aanvanklike storm oor die saak met hul uitsprake te laat bedaar en die minister self het teruggekrabbel oor sy aanvanklike radikale uitsprake. Hy het gesê die aangeleentheid sal gemonitor word en daar sal opgetree word teen sportkodes wat nie na wense transformeer nie.

Verskeie kommentators was egter van mening dat Mbalula se skielike uitsprake niks anders as ‘n verkiesingsfoefie met die oog op die algemene verkiesing van 7 Mei is nie. Die minister is op rekord dat hy in die verlede selfs daarop aanspraak gemaak het dat kwotas onnodig geword het. ‘n Bekende krieket administrateur waarmee Rekord gepraat het wys daarop dat die minister byvoorbeeld in Januarie 2011 kort voor die krieket wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka, in die openbaar gesê dat kwotas onnodig geword het in Suid-Afrikaanse sport.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button