Drama met afskop van Carltonliga
Die Blou Bulle se gesogte Carltonliga het die afgelope naweek afgeskop en sommer in die eerste week was dit duidelik dat vier top klubs weer vanjaar die gunstelinge is om aanspraak te maak vir plekke in die halfeindrondtes. Die naweek het ook dramaties begin vir klubrugby, toe die bestuur van die Silver Valke ‘n skok-aankondiging …
Die Blou Bulle se gesogte Carltonliga het die afgelope naweek afgeskop en sommer in die eerste week was dit duidelik dat vier top klubs weer vanjaar die gunstelinge is om aanspraak te maak vir plekke in die halfeindrondtes. Die naweek het ook dramaties begin vir klubrugby, toe die bestuur van die Silver Valke ‘n skok-aankondiging gemaak het oor hul deelname aan vanjaar se reeks. Dit is reeds die afgelope twee seisoene bekend dat die Silver Valke, wat ‘n paar seisoene gelede nog een van die presteerders in die Carltonliga was, probleme ondervind wat hul prestasie op die veld ernstig beïnvloed. Dié klub het sowat vyf seisoene gelede nog getel onder die halfeindrondte kandidate, maar sedertdien het hulle vinnig agteruitgegaan. Die Silver Valke se voorsitter, Henry van Wyk, het die afgelope naweek ‘n verklaring uitgereik waarin hy verduidelik dat sy bestuur ‘n berekende besluit geneem het om aansoek te doen om vanjaar tydelik in die Blou Bulle se Eersteliga te gaan speel. Van Wyk sê sy klub het die afgelope paar seisoene verskeie terugslae beleef wat tot hul situasie bygedra het, maar hy glo dat hulle dit binnekort gaan oorkom. Hy sê sy bestuur het besluit om vanjaar eerder in die eerste liga te speel om verdere skade aan die klub te voorkom, sodat hulle sake kan regstel en volgende seisoen volstoom kan terugkeer. Hulle aanvaar dat hulle aan die einde van die huidige seisoen waarskynlik by ‘n promosie-relegasie wedstryd betrokke sal wees, maar volgens Van Wyk sal hul situasie teen daardie tyd drasties verander het. Hy het beklemtoon dat die Silver Valke nié hul Carltonbeker-status prysgee nie, maar dat hulle slegs tyd nodig het om van hul probleme te herstel en dat dit sinloos is om intussen as melkkoei in dié liga aan te bly en daardeur potensiële spelers af te skrik. Van Wyk is, ten spyte van hierdie terugslag, baie opgewonde oor die klub se toekoms. Hy het aan Rekord gesê dat daar binnekort ‘n groot aankondiging gemaak sal word oor ‘n ontwikkeling waarby die klub in so ‘n groot mate gaan baat vind dat hulle waarskynlik vanaf 2015 ‘n volwaardige semi-professionele klub gaan word en met eersteklas fasiliteite sal spog. Teen druktyd was die Blou Bulle Rugbyunie nog nie beskikbaar om te bevestig of hulle aan die Silver Valke se versoek sal voldoen om aan hulle ‘n jaar grasie te gee om hul sake in orde te kry nie. – Intussen het Centurion volpunte verdien vir hul wedstryd wat teen die Silver Valke moes plaasvind. Dié klub het inderwaarheid die afgelope naweek ‘n ruskans gehad ná hul strawwe seisoen tot dusver, waarin hulle die uitspeelrondtes van die nasionale Gemeenskapsbekerreeks gehaal het. – Verlede jaar se kampioen, Tukkies, het hul Carltonbeker-veldtog op ‘n drafstap begin deur Harlequins met 51-24 te klop. Hoewel Harlequins nie slegte rugby gespeel het nie en Tukkies se verdediging self gereeld met opwindende spel beproef het, was die studente eenvoudig te sterk vir die manne van Groenkloof. – Verlede jaar se ander eindstryd kandidaat, Oostelikes, het ook nie baie moeite gehad om TUT in hul eerste wedstryd van die toernooi te klop nie. Die eindtelling was 48-14 in die guns van Oostelikes. – Polisie, wat verlede seisoen nie hul titel as kampioen kon verdedig nie, het ook gewys dat hulle vanjaar met mening terug is. Polisie speel met ‘n gesoute span vol ervaring en hulle was net te goed vir die Naka Bulle van die Moot. Polisie het hul eerste Carltonbeker-wedstryd op hul nuwe terrein in Groenkloof (die terrein van die voormalige Pretoria-rugbyklub) met oorgawe gevier toe hulle die manne van die Moot met 48-13 geklop het. Eerskomende Saterdag speel Harlequins teen die Naka Bulle, TUT ontvang Polisie, Centurion pak Oostelikes en Tukkies sal waarskynlik ’n loslootjie hê, omdat hulle teen die Silver Valke sou speel.
