Sport

Oostelikes neem voortou in Carltonliga

Die Oostelikes/Eagles-rugbyklub het die afgelope naweek die vroeë voortou in die Carltonbekerliga geneem nadat hulle vir die tweede agtereenvolgende week volpunte verdien het. Oostelikes het Centurion op laasgenoemde se tuisveld in ‘n taai stryd met 33-25 geklop en in die proses vier drieë gedruk. Die klub is tans met tien ligapunte bo-aan die puntelys. Albei …

Oostelikes se losskakel, Morné van den Berg, het nie net met sy giftige skopvoet tot sy span se puntetotaal bygedra nie, maar hy het ook een van hul vier drieë gedruk. Hier gaan hy in die hoek oor. Foto: GB Jordaan
Oostelikes se losskakel, Morné van den Berg, het nie net met sy giftige skopvoet tot sy span se puntetotaal bygedra nie, maar hy het ook een van hul vier drieë gedruk. Hier gaan hy in die hoek oor.
Foto: GB Jordaan

Die Oostelikes/Eagles-rugbyklub het die afgelope naweek die vroeë voortou in die Carltonbekerliga geneem nadat hulle vir die tweede agtereenvolgende week volpunte verdien het. Oostelikes het Centurion op laasgenoemde se tuisveld in ‘n taai stryd met 33-25 geklop en in die proses vier drieë gedruk. Die klub is tans met tien ligapunte bo-aan die puntelys. Albei spanne het Saterdag puik rugby gespeel, ten spyte van die feit dat beseerde staatmakers aan albei kante nie vir die stryd beskikbaar was nie. Die wedstryd was ‘n goeie advertensie vir klubrugby in Pretoria en dit was goed om te sien dat daar soveel talent in dié twee oopklubs is. Centurion het die wedstryd teen ‘n vinnige pas begin en dit was duidelik dat hulle ‘n byltjie te slyp het met die manne van die ooste, wat verlede seisoen die verrassing van die liga was. Hulle was juis die span wat Centurion verlede seisoen in die halfeind­rondte van die Carltonliga uitgeskakel het, nadat Centurion reeds gekwalifiseer het om aan die Gemeenskapsbekertoernooi deel te neem. Die tuisspan se eerste punte was na net sestig sekondes reeds op die telbord toe hul haker, Sylvester Booysen, ‘n puik beweging afgerond het. Toe agtsteman Erasmus Jooste na vyftien minute oorval vir Centurion se tweede drie, het dit gelyk of die manne van die suide in beheer van die wedstryd is. Oostelikes het egter karakter gewys deur terug te kom en het voor rustyd self twee keer gaan druk om die rustydtelling op 22-18 vir Centurion te staan te bring. Na rustyd was dit die tuisspan wat met die son in hul oë moes speel en Oostelikes se losskakel, Morné van der Berg, het dié voordeel goed uitgebuit. Oostelikes het dié helfte oorheers en nog twee keer gaan druk, terwyl Centurion in die laaste veertig minute slegs drie punte kon aanteken. – Polisie het die afgelope naweek ook hul tweede agtereenvolgende oorwinning behaal. Daarmee het hulle in die tweede plek op die puntelys ingeskuif. Die Bobbies het die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) met 29-13 geklop, maar kon in die proses net twee drieë druk. Polisie se puik losskakel, Dillon Laubscher, was egter op sy stukke en hy het 19 punte met sy akkurate skopskoen aangeteken. Polisie het basies vir die hele wedstryd met 14 manne gespeel, nadat hul skrumskakel en een van die sterre in hul span, Hendrik van der Nest, na net vyf minute se spel met ‘n rooikaart van die veld gejaag is. Hy het na bewering ‘n opponent met die oop hand in die gesig gestamp ná ‘n onderonsie by ‘n losskrum. Administrateurs van Polisie is erg omgekrap oor dié voorval en glo die skeidsregter het oorreageer en dat die rooikaart onnodig was. Omdat skrumskakel so ‘n sleutelposisie is, het Polisie se hele wedstrydplan omvergewerp deur die voorval, wat hulle waarskynlik ook ‘n ligapunt gekos het. Laubscher het eers die skrumskakelposisie oorgeneem, terwyl die vleuel, Ivan Venter, later daar diens gaan doen het. – In die derde wedstryd van die naweek het die Naka Bulle mooi herstel na hul nederlaag in die eerste rondte deur vyf drieë te druk vir hul oorwinning van 33-13 oor Harlequins. Hoewel Harlequins altyd bereid is om opwindende hardlooprugby te speel, het hul voorspelers teen Naka Bulle se groot sterk pak swaargekry, wat beteken het dat die Blokkiestruie se gewillige agterlyn eenvoudig nie genoeg van die bal gesien het om skade aan te rig nie. Die manne van die Moot se onderskatte agterlyn kon egter baljaar en die drieë inryg in ‘n vertoning wat dié klub weer moed sou gee vir die res van die seisoen. – Eerskomende naweek het Harlequins ‘n loslootjie. Tukkies is weer op hul tuisveld in aksie teen Oostelikes, terwyl die ander twee groot kanonne, Polisie en Centurion, mekaar sal pak.  Die Naka Bulle speel tuis teen TUT is ’n wedstryd wat ook baie harde rugby behoort op te lewer.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button