Sport

Polisie skok sterbelaaide Tukkies in Carltonbeker

Polisie se skok-oorwinning oor Tukkies in die Carltonliga die afgelope naweek het nuwe balans in klubrugby in Pretoria gebring, nadat Tukkies vroeër gedreig het om onder die ander kandidate uit te hardloop in dié liga.

Die vierde week van vanjaar se Carltonbekerreeks het die afgelope naweek twee groot verrassings opgelewer.

Intussen word die stryd tussen die oopklubs om die Blou Bulle se verteenwoordiger in volgende jaar se Gemeenskapsbekerreeks te bepaal al hoe feller. Dit stuur af op ’n baie spannende paar weke waar die finale kandidaat waarskynlik in die laaste week van die eerste rondte op 21 Junie in die wedstryd tussen Oostelikes en Polisie bepaal gaan word.

– Die grootste verrassing die afgelope naweek was Polisie se oortuigende oorwinning van 33-20 oor Tukkies waarin die Bobbies hul sterbelaaide teenstanders in byna elke faset van die spel oorskadu het. Dit was die Bobbies se grootste oorwinning oor die studente hierdie eeu en slegs hul negende in veertien seisoene.

Polisie het drie drieë gedruk teen die twee van Tukkies, terwyl die Bobbies se betroubare losskakel, Dillon Laubscher, nog 18 punte met die skopstewel aangeteken het.

Hierdie oorwinning van Polisie het nie net veroorsaak dat hulle nou as die gunsteling beskou kan word om vanjaar as die Blou Bulle se kandidaat vir volgende jaar se Gemeenskapsbekertoernooi te kwalifiseer nie, maar dit het ook die wedloop om die Carltonbeker weer wawyd oopgegooi.

– Die tweede verrassing van die week was TUT se skokoorwinning van 32-29 oor Centurion op laasgenoemde se veld. Hoewel albei spanne vier drieë gedruk het, was die verskil uiteindelik ’n strafdoel deur TUT se onderskatte losskakel, Morné Hugo. Hugo het 12 van sy span se punte aangeteken.

Hoewel Centurion baie teleurgesteld sal wees in hul eie vertoning, is die uitslag van hierdie wedstryd tog baie goeie nuus vir klubrugby in Pretoria. Die kern van TUT se Varsitybekerspan speel steeds vir dié span en hulle is besig om ’n hegte eenheid onder die bekwame afrigting van André Eloff te word.

TUT en Centurion is nou gelyk op die puntelys met nege ligapunte elk en laasgenoemde is skielik onder druk indien hulle vir die halfeindrondte wil kwalifiseer. Hulle moet ook nog op 14 Junie teen Tukkies speel.

– In die afgelope naweek se derde wedstryd het Oostelikes ’n wegholoorwinning van 59-7 oor Harlequins behaal. Oostelikes het met hul volpunte daarin geslaag om hul posisie op die puntelys te verbeter en hulle lê tans in die tweede plek. Die feit dat Tukkies geen ligapunte verdien het nie, het ook in Oostelikes se guns getel en hul nederlaag teen die studente is daarmee uitgekanselleer.

Eerskomende naweek speel Centurion teen die Naka Bulle op laasgenoemde se veld in die Moot, Tukkies reis na Pretoria-Wes vir hul wedstryd teen TUT en Harlequins steek Totiusstraat oor om Polisie op hul nuwe velde in Groenkloof aan te vat. Oostelikes het dus ’n loslootjie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button