Affies gooi ’n knuppel in die skolerugby-hoenderhok
Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) se onlangse onttrekking uit rugbywedstryde teen twee vooraanstaande hoërskole van Pretoria het die afgelope week ’n ernstige debat oor skolerugby tot gevolg gehad. Aan die een kant is daar beskuldigings van dubbele standaarde teen Affies, terwyl daar ook diegene is wat skole soos Garsfontein en Menlopark – die twee skole teen …
Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) se onlangse onttrekking uit rugbywedstryde teen twee vooraanstaande hoërskole van Pretoria het die afgelope week ’n ernstige debat oor skolerugby tot gevolg gehad.
Aan die een kant is daar beskuldigings van dubbele standaarde teen Affies, terwyl daar ook diegene is wat skole soos Garsfontein en Menlopark – die twee skole teen wie Affies nie wou speel nie – beskuldig dat hulle ander seuns van geleenthede ontneem deur ‘huursoldate’ te gebruik om hul rugbyspanne te verbeter.
Die publiek se deelname aan hierdie debat deur middel van openbare forums het bygedra om die saak te laat opvlam en in sekere gevalle het dit selfs ’n politieke kleur bygekry, wat daarop dui dat die onderwerp beslis meer as een aspek insluit.
Die polemiek het begin toe Affies aangekondig het dat hulle nie meer aan geskeduleerde wedstryde teen Garsfontein en Menlopark gaan deelneem nie. Verskeie ander redes is ook genoem, maar die omstrede aspekte van sogenaamde ‘huursoldate’ en ‘post-matrieks’ wat glo in spanne van dié skole betrokke sou wees, het bygedra tot die omstredenheid van die debat.
Sommige waarnemers sê openlik dat hulle Affies se skielike besluit om aan die genoemde wedstryde te onttrek vreemd vind, aangesien die situasie by Garsfontein en Menlopark reeds bekend was toe die seisoen beplan is. Affies het ook al in die verlede teen verskeie spanne met o.19 spelers in hul geledere uitgedraf, selfs vroeër vanjaar. Om hierdie rede word Affies se sogenaamde beginselbesware ernstig bevraagteken.
Affies het vanjaar een van hul swakste eerstespanne in baie seisoene en waar verlede jaar se eerstespan die seisoen onoorwonne afgesluit het, sukkel vanjaar se span. Hulle het reeds verskeie nederlae gely en Affies het op die ranglyste van verskeie gesaghebbende bronne wat skolerugbyspanne elke seisoen volgens krag takseer reeds teruggesak tot buite die top tien, terwyl hulle verlede seisoen algemeen as die land se beste rugbyskool beskou is.
Mnr. Sakkie van der Walt van Affies het aan Rekord gesê dat hulle nie belangstel om verder aan die debat deel te neem nie en dat hulle volstaan by hul hoof, dr. Pierre Edwards se aanvanklike verklaring oor die saak.
Intussen het Garsfontein se sport bestuurshoof, Retief Smith, aan Rekord gesê die skool wil nie by enige verdere debat betrokke wees nie. Hy sê hulle aanvaar Affies se besluit en het reeds aanbeweeg. Hy het dit egter duidelik gemaak dat Garsfontein geen ‘post-matrieks’ in hul span het nie en dat die twee spelers wat wel reeds o.19’s is, albei in hul eerste jaar in matriek is. Dit is egter nie teen die reëls van die Beeldtrofeetoernooi nie en verskeie ander skole het soortgelyke spelers in hul spanne.
Smith het ook bevestig dat die skool tans 15 spelers in hul rugbyspanne het, wat onder alle ouderdomsgroepe versprei is, wat deel is van die skool se program om aan kinders uit alle sosiale vlakke op grond van hul potensiaal geleenthede te skep wat hulle andersins nie sou gehad het nie. Dit sluit seuns in wat in ander dele van die land gewerf word om deel van die program te wees.
In hul amptelike verklaring oor die saak sê Garsfontein dat hierdie program in 2011 deur hul beheerraad ingestel is en dat verskeie van die leerlinge wat daaruit voordeel getrek het reeds met groot sukses ook hul matriekeksamen geslaag het. Daar word genoem dat die program ontwikkeling en transformasie ten doel het en dat dit met deeglike samewerking van deelnemers se ouers geskied.
Xander Janse van Rensburg, hoëprestasie bestuurder van die Blou Bulle Maatskappy, het aan Rekord bevestig dat hulle betrokke is by die program om skoolseuns landwyd te werf en dat verskeie plaaslike skole daarby betrokke is.
