Skeidsregter se aanvallers nog nie geïdentifiseer
Die voorval waarin 'n rugbyskeidsregter die afgelope naweek by die Tuine rugbyklub aangerand is, word op verkeie vlakke ondersoek en volgens die betuur van die klub doen hulle alles in hul vermoë om die skuldige te identifiseer en vas te trek.
Die voorval waarin ’n ervare skeidsregter van die Blou Bulle-rugbyunie Saterdag kort na ’n Eersteligawedstryd tussen Tuine en Brits op die terrein van Tuine-sportklub met ’n motorfietsvalhelm aangerand is, is met woede en afkeur deur die hele bestuur van Tuine-rugbyklub veroordeel.
Marais van Zyl was in beheer van die wedstryd tussen die twee klubs se eerstespanne, wat met 34-30 deur Tuine gewen is.
Van Zyl en sy assistente is volgens die voorsitter van Tuine-rugbyklub, Jaco Olivier, genooi om na die wedstryd verversings te geniet in die klubhuis. Nadat Van Zyl en een van sy kollegas die kleedkamer verlaat het, het hulle na die parkeerterrein beweeg om hul sportsakke in ’n motor toe te sluit. Daar is hulle toe deur twee jong mans gekonfronteer. Een van die mans het blykbaar teenoor Van Zyl sy misnoeë met die hantering van die wedstryd uitgespreek, waarna hy hom met ’n motorfiets valhelm oor die kop geslaan het.
Van Zyl en sy kollega het blykbaar daarna teruggeveg en hulleself teen die aanvallers verdedig. Toe ander toeskouers van die voorval bewus word en hulle na die toneel gehaas het, het die aanvallers gevlug.
Olivier het blykbaar onmiddellik opdrag gegee dat die klub se hekke gesluit word, waarna hy die polisie gebel het, maar dit het mettertyd duidelik geword dat die skeidsregter se aanvallers reeds die terrein verlaat het. Van Zyl was volgens Olivier by sy positiewe en hy het nie tekens getoon dat hy ernstig beseer is nie, maar Tuine se bestuur het by hom aangedring om wel hospitaal toe te gaan vir ’n ondersoek. Van Zyl het die terrein volgens Olivier op sy eie verlaat. Hy is later na Montana-hospitaal, waar hy intussen opgeneem is.
Olivier het aan Rekord gesê dat ooggetuies verbonde aan Tuine-rugbyklub wat die voorval gesien het, het hom verseker dat hulle nie die aanvallers ken nie. Hy het ook beklemtoon dat hy nie daarmee wil sê dat dit ondersteuners van Brits is nie, maar dit is wel so dat die klub soms deur mense as sosiale kuierplek gesien word en dat lede van die publiek wel vrylik toegang het tot die klub tydens wedstryde.
Hoewel daar kringtelevisiekameras by die klubterrein is, strek dié kameras nie so ver soos die parkeerterrein nie. Olivier het gesê dat hulle wel sonder sukses die kameras se opnames bestudeer het om te sien of die oortreders uitgeken kan word op die paviljoen tydens die wedstryd.
Volgens Olivier het hulle sedert die oorname van die huidige bestuur by Tuine-sportklub nog nooit enige probleme gehad nie en die klub plaas ’n groot premie op dissipline op en van die veld tydens rugbywedstryde. Intussen het Rekord ’n verklaring van Shaun Kelly, ook ’n skeidsregter, wat vir spanne in die Blou Bulle se Eersteliga optree ontvang. Daarin verklaar hy dat Tuine-rugbyklub se dissipline die afgelope drie jaar uitgestaan het en dat dit nog altyd ’n plesier was om daar op te tree. Hy verklaar ook dat skeidsregters in die verlede daar vriendelik onthaal is na wedstryde, sonder enige probleme.
Die Blou Bulle-rugbyunie sal die saak dringend ondersoek voor enige kommentaar gelewer kan word, terwyl Van Zyl se familie blykbaar ook ’n saak by die polisie aanhangig gemaak het.
