Kritiek teen té veel druk in skolerugby ná rooikaarte in Beeldtrofee
Kenners van skolerugby, ouers en onderwysers het verskillende menings oor die oorsaak van vuilspel in rugby op dié vlak, wat nou in die uitspeelfase van die Beeldtrofee-reeks weer in die nuus is. Die algemene gevoel onder baie kenners wat skolerugby nougeset volg is dat daar waarskynlik te veel druk is op skoolseuns wat vir hul …
Kenners van skolerugby, ouers en onderwysers het verskillende menings oor die oorsaak van vuilspel in rugby op dié vlak, wat nou in die uitspeelfase van die Beeldtrofee-reeks weer in die nuus is.
Die algemene gevoel onder baie kenners wat skolerugby nougeset volg is dat daar waarskynlik te veel druk is op skoolseuns wat vir hul skole se eerstespan speel. Weens hierdie druk ontstaan daar dan in wedstryde situasies wat die seuns frustreer en dit lei weer tot vuil- of ongeoorloofde spel.
“Daar is eenvoudig té veel op die spel,” het ’n ouer by ’n vooraanstaande skool aan Rekord gesê. Dié ouer, wat verkies om anoniem te bly weens vrees vir intimidasie teen sy seun, sê skole spandeer duisende rand aan beurse vir sportpresteerders en dis net logies dat daardie kinders dan onder enorme druk is om te presteer. “Daar is ook natuurlik die ander kant van die munt. Ouers laat toe dat sportagente hul kinders reeds op skool vasteken en daardie seuns is dan onder druk om te presteer, want daar word groot beloftes van ’n professionele loopbaan en baie geld aan die kinders gemaak,” sê dié ouer.
Leon Jelliman, rugby-bestuurder by die Hoërskool Centurion, wat tans in die nuus is weens ’n vuisgeveg in hul uitspeelwedstryd verlede week teen Hoërskool Florida, sê hy is nie oortuig daarvan dat druk op skoolkinders die grootste oorsaak van vuilspel op die rugbyveld is nie. “Ek dink eerder daar ontstaan enorme frustrasie by spelers weens die inkonsekwente optrede van skeidsregters” is Jelliman se mening. Hy verduidelik dat die spesifieke speler van Hoërskool Centurion, Cornel Jacobs, wat by die geveg betrokke was, besonder goed is by die afbreekpunte. “Hy is bekend daarvoor dat hy baie besit omkeer by die afbreekpunte en as skeidsregters by dié faset nie konsekwent is nie, kan spelers van albei spanne gefrustreerd raak,” het Jelliman gesê.
Volgens Jelliman is dit ’n onbewese bewering dat Jacobs ’n opponent van Florida, Willie Bronkhorst, met die elmboog geslaan het. Aan die ander kant het Rekord se gereelde sportfotograaf, GB Jordaan, die seun van Florida op heterdaad betrap toe hy die vuishou plant. Hy het ’n rooikaart ontvang vir die blatante vuishou, terwyl die seun van Centurion ook ’n geelkaart gekry het vir sy aandeel in die onderonsie.
* Die omstredenheid van die verhouding tussen spelers en skeidsregters in skolerugby het ook ’n ander hoek. Ondersteuners van die Hoërskool Waterkloof is briesend, nadat twee geelkaarte (wat outomaties ’n rooikaart word) verlede naweek aan hul spog-losskakel, Tinus de Beer, gewys is in Waterkloof se uitspeelwedstryd teen die Hoërskool EG Jansen van Boksburg. Waterkloof moes basies die hele tweede helfte sonder De Beer klaarkom en in dié tyd het hulle nege punte verloor met verbroude stelskoppe wat volgens De Beer se standaard maklik sou wees. Uiteindelik het Waterkloof die wedstryd met 20-22 verloor.
Daar was verdere omstrede voorvalle in dié wedstryd en dit is volgens ’n video-opname van die spel duidelik dat Waterkloof teen die einde van die wedstryd tweekeer oor die doellyn gekom het. Beide die lynregters het egter ’n invloed op die skeidsregter se beslissing gehad en hy het telkens beweer dat Waterkloof nie gedruk het nie.
Een van Waterkloof se afrigters, Burger Lindeque, het aan Rekord gesê hy sou graag in sulke belangrike wedstryde wil sien dat onverbonde wedstrydbeamptes (skeidsregters én lynregters) daarin moet optree. “Dis geen suur druiwe nie, want die feit bly staan dat Tinus de Beer uiteindelik deur ’n tugkomitee vrygespreek is. Selfs sonder hom het ons al die fasette oorheers, maar ons het nie ’n skopper gehad nie. As hy op die veld was, het ons die wedstryd gewen, só eenvoudig is dit”, het Lindeque gesê.
Die komplikasie van ’n skorsing sou vir De Beer astronomies gewees het, want hy is pas gekies as lid van die SA Skolespan. As hy geskors is, sou hy dus dié geleentheid om die heel hoogste eer te beurt te val waarvan ’n skole rugbyspeler kan droom, misgeloop het.
Lindeque is van mening dat die skole in sulke belangrike wedstryde selfs sal bydra vir die reiskoste van skeidsregters, maar hy glo dat as twee skole byvoorbeeld uit die Valke-streek en die Blou Bulle-streek teen mekaar speel, daar na wedstrydbeamptes uit die geledere van die Leeus, Luiperds of Pumas gesoek moet word om die wedstryde te hanteer.
