Sport

Tuks klop Polisie met 14 man in Carltonbeker finaal

Die Universiteit van Pretoria (Tukkies) het Saterdag op Loftus Versfeld sy titel as Carltonbekerkampioene suksesvol verdedig, toe hy Polisie oortuigend met 35-13 geklop het. Wat Tukkies se oorwinning selfs meer merkwaardig maak, is dat hy 60 minute lank met een man minder moes speel, omdat sy flank Pieter Griesel na net 18 minute se spel …

Die Universiteit van Pretoria (Tukkies) het Saterdag op Loftus Versfeld sy titel as Carltonbekerkampioene suksesvol verdedig, toe hy Polisie oortuigend met 35-13 geklop het. Wat Tukkies se oorwinning selfs meer merkwaardig maak, is dat hy 60 minute lank met een man minder moes speel, omdat sy flank Pieter Griesel na net 18 minute se spel met ‘n rooikaart afgestuur is weens ‘n gevaarlike duikslag op Polisie se binne­senter, Pieter Strydom. Griesel was sekerlik ongelukkig, aan­gesien hy waarskynlik nie opsetlik die oortreding gepleeg het nie. Dit het gelyk na ‘n refleksbeweging waarmee hy Strydom op volle vaart aan die kraag beetgekry het. Weens die feit dat Griesel baie gro­ter en swaarder as Strydom is, kon laasgenoemde egter baie ernstig beseer word deur die aksie en die skeidsregter het geen ander keuse gehad as om die rooikaart uit te haal nie. Tukkies het hierdie terugslag egter besonder goed te bowe gekom. Pote Human en sy bestuur het hul huiswerk goed gedoen en Tukkies kon, deur die regte taktiek, die gevaarlike span van Polisie stelselmatig mak speel. Kort voor rustyd is ‘n oordryf-drie deur die voorspelers gedruk om met 13-3 voor te loop toe die spanne gaan water drink het. Die studente se wenresep het om om drie aspekte gedraai. Eerstens het hul vaste vyf die Bobbies oorheers in die vaste fasette. Polisie se veteraan kaptein en lynstaan­spesialis, Nico Luus, is geneutraliseer deur puik spel van Reniel Hugo en Pieter Janse van Vuuren. Luus het inderdaad nie ‘n goeie wedstryd gehad nie en sy leedvermakerige gekoggel teenoor sy teenstanders ná Griesel se rooikaart het sy status as leier en senior speler glad nie goed gedoen nie. Tukkies se grootste voordeel was egter by die afbreekpunte, waar Dwight Pansegrouw een van die beste vertonings deur enige oopkantflank in vanjaar se Carltonbekerreeks gelewer het. Hy het, met die ondersteuning van sy haker, Sydney Tobias, die manne van Polisie by die afbreekpunte vernietig. Hierdie feit, saam met die oorheersing van Tukkies se vaste vyf, het aan die studente se puik skrumskakel, Emile Temperman, die nodige ruimte gegee om amok agter die skrum te maak. Terloops, die toeskouers het in dié eind­stryd waarskynlik die twee beste skrumskakels in Suid-Afrikaanse klubrugby teen mekaar in aksie gesien. Op die dag het Temperman se voorspelers – selfs met een man minder – dit vir hom moontlik gemaak om dié tweestryd vir die fynproewers maklik teen Hendrik van der Nest te wen. Hoewel Polisie enduit probeer het om terug te kom in die wedstryd, was Tukkies se toewyding en akkuraatheid in alle aspekte net te goed om die oorheersing te breek. Polisie het homself ook geen guns bewysdeur baie geleenthede te verspeel met swak hantering en gebrekkige oordeel nie. Pieter Strydom se puik verdediging en Louis van Biljon se kanniedood-inklimspel het egter vir Polisie uitgestaan. Uiteindelik vertel die telbord die volle verhaal. Dit was, in terme van klipharde rugby én drama ‘n eindstryd so goed soos enige ander in die geskiedenis. Tukkies se vyf drieë teen twee, selfs na hom terugslag so vroeg in die wedstryd, maak van sy die welverdiende kampioen.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button