Tuks klop Polisie met 14 man in Carltonbeker finaal
Die Universiteit van Pretoria (Tukkies) het Saterdag op Loftus Versfeld sy titel as Carltonbekerkampioene suksesvol verdedig, toe hy Polisie oortuigend met 35-13 geklop het. Wat Tukkies se oorwinning selfs meer merkwaardig maak, is dat hy 60 minute lank met een man minder moes speel, omdat sy flank Pieter Griesel na net 18 minute se spel …
Die Universiteit van Pretoria (Tukkies) het Saterdag op Loftus Versfeld sy titel as Carltonbekerkampioene suksesvol verdedig, toe hy Polisie oortuigend met 35-13 geklop het. Wat Tukkies se oorwinning selfs meer merkwaardig maak, is dat hy 60 minute lank met een man minder moes speel, omdat sy flank Pieter Griesel na net 18 minute se spel met ‘n rooikaart afgestuur is weens ‘n gevaarlike duikslag op Polisie se binnesenter, Pieter Strydom. Griesel was sekerlik ongelukkig, aangesien hy waarskynlik nie opsetlik die oortreding gepleeg het nie. Dit het gelyk na ‘n refleksbeweging waarmee hy Strydom op volle vaart aan die kraag beetgekry het. Weens die feit dat Griesel baie groter en swaarder as Strydom is, kon laasgenoemde egter baie ernstig beseer word deur die aksie en die skeidsregter het geen ander keuse gehad as om die rooikaart uit te haal nie. Tukkies het hierdie terugslag egter besonder goed te bowe gekom. Pote Human en sy bestuur het hul huiswerk goed gedoen en Tukkies kon, deur die regte taktiek, die gevaarlike span van Polisie stelselmatig mak speel. Kort voor rustyd is ‘n oordryf-drie deur die voorspelers gedruk om met 13-3 voor te loop toe die spanne gaan water drink het. Die studente se wenresep het om om drie aspekte gedraai. Eerstens het hul vaste vyf die Bobbies oorheers in die vaste fasette. Polisie se veteraan kaptein en lynstaanspesialis, Nico Luus, is geneutraliseer deur puik spel van Reniel Hugo en Pieter Janse van Vuuren. Luus het inderdaad nie ‘n goeie wedstryd gehad nie en sy leedvermakerige gekoggel teenoor sy teenstanders ná Griesel se rooikaart het sy status as leier en senior speler glad nie goed gedoen nie. Tukkies se grootste voordeel was egter by die afbreekpunte, waar Dwight Pansegrouw een van die beste vertonings deur enige oopkantflank in vanjaar se Carltonbekerreeks gelewer het. Hy het, met die ondersteuning van sy haker, Sydney Tobias, die manne van Polisie by die afbreekpunte vernietig. Hierdie feit, saam met die oorheersing van Tukkies se vaste vyf, het aan die studente se puik skrumskakel, Emile Temperman, die nodige ruimte gegee om amok agter die skrum te maak. Terloops, die toeskouers het in dié eindstryd waarskynlik die twee beste skrumskakels in Suid-Afrikaanse klubrugby teen mekaar in aksie gesien. Op die dag het Temperman se voorspelers – selfs met een man minder – dit vir hom moontlik gemaak om dié tweestryd vir die fynproewers maklik teen Hendrik van der Nest te wen. Hoewel Polisie enduit probeer het om terug te kom in die wedstryd, was Tukkies se toewyding en akkuraatheid in alle aspekte net te goed om die oorheersing te breek. Polisie het homself ook geen guns bewysdeur baie geleenthede te verspeel met swak hantering en gebrekkige oordeel nie. Pieter Strydom se puik verdediging en Louis van Biljon se kanniedood-inklimspel het egter vir Polisie uitgestaan. Uiteindelik vertel die telbord die volle verhaal. Dit was, in terme van klipharde rugby én drama ‘n eindstryd so goed soos enige ander in die geskiedenis. Tukkies se vyf drieë teen twee, selfs na hom terugslag so vroeg in die wedstryd, maak van sy die welverdiende kampioen.
