Die skrif is aan die muur vir Loftus se baadjiedraers
Hoewel die Blou Bulle Saterdag op Loftus Versfeld die OP Kings geklop het, was hul spel steeds onoortuigend en die broeiende krisis in dié rugbykringe is steeds nie afgeweer nie.
Die Blou Bulle het Saterdag op Loftus Versfeld wel hul eerste oorwinning in vanjaar se Curriebekerreeks behaal, maar of hulle enigiemand oortuig het dat dinge besig is om te verbeter, is ’n ope vraag.
Al het die Bulle vier drieë in die wedstryd gedruk om ’n bonuspunt te verdien, was hul oorwinning van 30-25 steeds nie oortuigend nie. Inteendeel, die wedstryd was tot in die laaste minuut in die weegskaal en die manne uit die Oos-Kaap het nooit ophou veg om die Pretorianers te probeer verras nie.
Die eerste helfte het beslis nie rugby opgelewer wat die toeskouers of die spelers lank sal onthou nie. Die Bulle se spel was deurtrek met foute en soos in hul eerste twee wedstryde teen die Leeus en die WP, kon die Bulle net nie daarin slaag om enige momentum op te bou nie.
Daar word steeds amptelik deur die Blou Bulle se bestuur ontken dat daar probleme is of dat selfs ’n krisis op Loftus Versfeld dreig. Getroue ondersteuners van die span is egter oortuig van die krisis en hulle eis optrede. Soos die gewoonte in Pretoria is, wanneer die Blou Bulle of die Bulls onderpresteer, stem die ondersteuners eenvoudig met hul voete en Saterdag se 5 219 toeskouers was ’n algehele laagtepunt.
Nou ontstaan die vraag: Lê die probleem by afrigting of is die vis besig om van sy kop af te vrot?
Die tyd het gekom vir introspeksie en optrede. Dit is eenvoudig onaanvaarbaar dat die Blou Bulle jaar na jaar die land se beste juniors Loftus Versfeld toe lok, maar die laaste trofee wat deur ’n senior span in Blou gewen is, was die SupeRugby trofee van 2010.
Die Bulle se juniors het nog jaarliks presteer, maar selfs hulle sukkel vanjaar. Verlede seisoen was die o.19-span onoorwonne toe hulle die trofee gewen het. Vanjaar het hulle al twee keer verloor na net ses wedstryde. Die o.21-span vaar selfs swakker en is tans vierde op hul puntelys, terwyl die Bulle dié liga vir jare oorheers het.
Selfs die senior klubliga het in chaos geëindig vanjaar en Carltonklubs se seisoen was selfs voor die skole se seisoen verby.
Intussen is die bestuur van die unie besig met belaglike politieke speletjies vir eie gewin, want dit is mos weer verkiesingsjaar en sommige baadjiedraers het blykbaar vergeet dat hulle in diens van rugby is en nie in diens van hul eie sosiale status en eer nie.
Dit kan nie langer verswyg word nie. Die skrif is aan die muur in Loftus se raadsale en diegene wat dit ignoreer, sal deur die geskiedenis geoordeel word.
