Sport

Saartjie Olivier is Loftus Versfeld se wandelende ensiklopedie

Rugby is tradisioneel ’n spel vir die manne, maar deesdae word dit al hoe duideliker dat vroue vir jare lank al ’n groot rol gespeel het om die administrasie van dié spel op verskeie vlakke uit te bou. Augustus is Vrouemaand en daarom is dit goed om – midde in die Curriebeker rugbyseisoen – die …

Rugby is tradisioneel ’n spel vir die manne, maar deesdae word dit al hoe duideliker dat vroue vir jare lank al ’n groot rol gespeel het om die administrasie van dié spel op verskeie vlakke uit te bou. Augustus is Vrouemaand en daarom is dit goed om – midde in die Curriebeker rugbyseisoen – die kollig te laat val op een van die werklike groot geeste wat betref vroue in die administrasie van Bloubul rugby. Saartjie Olivier het vroeër vanjaar haar 40ste jaar in diens van die Blou Bulle Rugby-unie gevier. In dié veertig jaar het sy die spel self, die administrasie daarvan en alle ander aspekte rondom rugby deeglik leer ken. Haar kinderdae het sy in die destydse Suidwes-afrika (deesdae Namibië) deurgebring. Na skool het sy onderwys in Stellenbosch gaan studeer, waarna sy terug is na haar geboorteland om eers op Otavi en later in Windhoek skool te hou. Daar het sy haar man, Theuns Olivier, ontmoet. Hy was in daardie stadium die skrumskakel van die span van Suidwes, wat toe nog aan provinsiale ligas in Suid-Afrika deelgeneem het. Só het Saartjie se reis met rugby begin. In 1967 het die egpaar Olivier na Pretoria verhuis en in 1972 het sy as tydelike hulp onder die bekende Robert Denton vir die destydse Noord-Transvaalse Rugby-unie begin werk. Twee jaar later, in 1974, is sy permanent aangestel. Dít was in die middel van die gloriejare van Brig. Buurman van Zyl as afrigter, waar die Bulle tussen 1968 en 1981 in 14 jaar nege keer die Curriebeker gewen het en dit twee keer gedeel het. Sy het die unie sien groei en rondom haar en die ander amptenare het die moderne Loftus Versfeld sedert 1977 in vier fases verrys. Sy beskryf die dae van Brig Van Zyl as die lekkerste tye op Loftus Versfeld, hoewel hulle baie hard moes werk met slegs vyf voltydse personeellede. Deel van haar lief en leed op die pad saam met die Blou Bulle was dat sy mettertyd van rugby-eggenoot na rugby-ma gegroei het. Hoewel haar man vir jare na sy speeldae steeds by die spel betrokke gebly het – veral as afrigter by spanne van die Weermag – was beide haar seuns ook kranige rugbyspelers. Haar oudste, Jacques, het uiteindelik ’n Bloubul legende geword met 137 wedstryde vir dié unie op sy kerfstok. Hy het ook in 17 toetse as vleuel vir die Springbokke uitgedraf. Hy hou die besondere rekord om die heel laaste Springbok te wees wat sy nasionale kleure van die legendariese dr. Danie Craven ontvang het. Saartjie se ander seun, Morné, het as student ook vir Tukkies in die Carltonbekerliga gespeel. Om die familie se band met rugby nog sterker te maak, was haar man, Theuns Olivier, se suster getroud met die Springboklegende Jan Ellis. Saartjie Olivier het al ’n leeftyd van diens aan rugby agter haar, maar sy is nog nie klaar nie. Sy is ’n wandelende ensiklopedie ten opsigte van die geskiedenis van Bloubul rugby en deesdae gebruik sy hierdie kennis as statistikus by Loftus, terwyl sy ook in beheer is van die Bulle se argief en die museum, wat hopelik uitgebrei sal word sodra die sogenaamde “noordgronde ontwikkeling” voltooi is. Sy doen deesdae ook stadiontoere vir toeriste wat vanoor die hele wêreld dié heiligdom van Bloubulrugby van nader wil leer ken.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button