
Met toetsrugby vir eers nou op die agtergrond, word die klem in die volgende drie weke verskuif na die opbou tot die klimaks (eindstryd) in die Curriebekerreeks. Die Blou Bulle is gelukkig nog deel van hierdie fase en dis selfs nie onmoontlik dat hulle die geskiedenis van 2002 kan herhaal om uit die vierde plek op die puntelys die reeks te wen nie.
Rugby
Curriebeker: Die laaste rondte van die Curriebekerreeks het aangebreek. Hoewel dit teoreties vir sowel die Cheetahs as die Pumas nog moontlik is om die halfeindrondte te haal, is die kanse baie skraal dat dit sal gebeur.
Die Pumas sou nietemin Vrydagaand reeds hul bes gedoen het om ’n goeie oorwinning te behaal teen die OP Kings in Port Elizabeth, net vir ingeval.
Saterdag begin die aksie teen 15:00 met die eerste wedstryd tussen die Leeus en die Cheetahs op Ellispark. Vir die Leeus is dit belangrik om te wen om hul tweede plek op die puntelys te verseker en dus ook seker te maak dat hulle volgende naweek op hul tuisveld in die halfeindrondte wedstryd speel. Die Cheetahs sal weer graag wil wen en dan hoop dat die Griekwas op Loftus Versfeld met die Blou Bulle kan afreken. Dit sal hulle ’n kans gee om by die agterdeur in te glip op pad na die halfeindrondte, op voorwaarde dat hulle oorwinning groot genoeg is om met ’n beter punteverskil op die puntelys te eindig as die Bulle.
Teen 17:00 skop die wedstryd tussen die WP en die Sharks af. WP het niks om te verloor nie en hul afrigters het as gevolg hiervan al hul staatmakers laat rus voor die halfeindrondte.
Die laaste wedstryd van die naweek vind op Loftus Versfeld in Pretoria plaas. Die Blou Bulle het in dié wedstryd net een ligapunt nodig om volgende week af te vlieg Kaapstad toe waar hulle die WP sal ontmoet in die halfeindrondte wedstryd.
Padwedlope
Die Phobians atletiekklub bied Saterdag 11 Oktober hul jaarlikse Chamberlains Capital Classic wedloop aan. Dié wedloop word in Lynnwood in die ooste van Pretoria aangebied en dit bestaan uit die 21,1km halfmarathon, ’n 10km wedloop en ‘n 5km pretdraf. Die wedloop begin om 06:00.
Krieket
Die Momentum eendagreeks het Vrydagaand in Centurion afgeskop met die wedstryd tussen die Titans en die Dolphins. Saterdag speel die Knights teen die Cape Cobras in Kimberley en Sondag speel die Highveld Lions teen die Warriors in Potchefstroom.
Intussen is die Suid-Afrikaanse vrouespan op pad na Sri Lanka, waar hulle teen dié land se vroue gaan spee in die ICC Women’s Championship.
Netbal
Die Varsitybeker Netbaltoernooi bereik Maandagaand sy halfeindrondte. Tukkies het die toernooi se ligafase onoorwonne afgesluit en byna tien ligapunte voor hul naaste teenstanders geëindig. Hulle speel Maandagaand op hul tuisbaan in die Rembrandtsaal op die Universiteit van Pretoria se sportkampus teen die Maties in die een halfeindstryd. Die wedstryd begin om 18:45.
Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook en Twitter blaaie.
