Sport

Sport hoogtepunte, 18-19 Oktober 2014

Jou naweek sport hoogtepunte.

Die Curriebekerreeks is besig om op te werk na die klimaks van die groot finaal volgende week en hierdie naweek sal al die aandag by die twee halfeindrondtes van dié rugbyreeks wees.

Rugby

Curriebeker: Nadat die Blou Bulle aanvanklik gesukkel het in vanjaar se Curriebekerreeks, het hulle net-net daarin geslaag om vir die halfeindrondte van hierdie reeks te kwalifiseer. Uitspeelrondtes is egter ‘n spreekwoordelike perd van ‘n ander kleur en enigiets is moontlik in Saterdag se halfeindrondte wedstryd tussen die Bulle en die WP op Nuweland in Kaapstad. Hoewel die WP die gunsteling is, het die Bulle ten minste ‘n 50 persent kans om vir die finaal te kwalifiseer.

Die Bulle het wel ‘n terugslag beleef met die besering van hul gereelde binnesenter, Burger Odendaal, maar min spanne sal kla om in die posisie te wees om iemand soos Odendaal te vervang met die opkomende superster, Handré Pollard.

In die ander halfeindwedstryd sal die Leeus op hul tuisveld in Johannesburg teen die Sharks te staan kom.

Toetsrugby: Nog voor die Curriebeker aksie Saterdag begin kan rugbyliefhebbers ook vir oulaas vanjaar twee van die suidelike halfrond se swaargewigte op internasionale vlak teen mekaar in aksie sien. Die All Blacks en Australië pak mekaar Saterdagoggend in die Bledisloe-beker wedstryd in Brisbane. Dit sal veral interessant wees om die Aussies se vertoning dop te hou na al die terugslae wat hulle op en van die veld af beleef het die afgelope maand.

Padwedlope

Die rustige strate van Groenkloof is nogal ’n gewilde bestemming vir padwedlope en Saterdagoggend is dit weer sulke tyd vir dié omgewing.

Die SABS se Jacaranda City Challenge padwedloop, aangebied deur die SABS (hulle hoofkantoor is ook in Groenkloof) in samewerking met die Agape Atletiekklub vind dan in Groenkloof plaas. Deelnemers aan die wedloop het die keuse van ’n uitdagende marathon (42,2km), ’n 21,1km halfmarathon, ’n 10km wedloop en ’n 5km pretdraf. Die marathon en halfmarathon begin om 06:00, terwyl die ander twee wedlope om 06:30 sal begin.

Krieket

Met die Sunfoil vierdagreeks wat vir eers oorstaan tot Desembermaand, sal al die plaaslike aandag in die volgende maand wees op die Momentum Eendagreeks. Dié reeks het met ’n paar opwindende wedstryde afgeskop en hierdie naweek is daar weer volop aksie.

Die Titans speel Vrydagmiddag teen die Highveld Lions op die Wanderers in Johannesburg en Sondag reis hulle weer na die Oos-Rand vir ’n wedstryd teen die Knights op Willowmoore Park.

Netbal

Die Varsitybeker Netbaltoernooi se finaal word Maandagaand in Pretoria gespeel wanneer Tukkies en Kovsies mekaar in die Rembrandt-saal op die Universiteit van Pretoria se sportkampus pak.

Tukkies is tot dusver onoorwonne in die toernooi en hulle moet beslis die gunstelinge wees om vanjaar dié gesogte titel as Varsity kampioene in te palm.

Gholf

Suid-Afrikaners sal hierdie naweek met ander oë as normaalweg kyk na die laaste twee rondtes in die Hong Kong Ope.

Suid-Afrika se goue gholfseun, Ernie Els het baie goed begin in die toernooi en na die eerste twee rondtes was hy twee houe voor sy naaste teenstander in die eerste plek. Els kan dus Sondag dié titel voeg by die vele ander op sy kerfstok in sy loopbaan van 25 jaar.

Hy sal hoop om die toernooi te wen en daardeur aan homself ’n verjaardaggeskenk te gee, aangesien hy die afgelope week tydens die toernooi 45 jaar oud geword het.

Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook en Twitter blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button