Sport

Sport hoogtepunte, 25-26 Oktober 2014

Die naweek se sport hoogtepunte, net hier.

Die Curriebekerreeks kom hierdie week by die hoogtepunt van die seisoen en vir rugbyliefhebbers word die jaar se provinsiale aksie Saterdag op Nuweland in Kaapstad afgesluit, wanneer die WP en die Goue Leeus mekaar in die finaal die stryd aansê. Daar is egter ook baie ander aksie vir sportliefhebbers wat van aksie saam met die braaivleis hou.

Rugby

Curriebeker: Dis byna ongelooflik, maar die statistiek lieg nooit – die WP en die Goue Leeus (Transvaal in die ou dae) het ’n volle 28 jaar laas teen mekaar te staan gekom in ’n Curriebeker finaal! Rugbyliefhebbers met ’n goeie geheue sal dié finaal nog onthou as die dag toe die WP-senter, Goggie van Heerden, die Leeus se stert geknoop het met twee puik drieë.

Daardie finaal was ook in ’n ander opsig besonders, want dit sou amptelik die einde wees van die WP se vyf goue jare, waartydens hulle dié gesogte beker vyf jaar na mekaar gewen het.

Daar is die afgelope week gedebateer oor wie nou eintlik as die gunstelinge op die veld gaan draf, maar ervaring het ons geleer dat eindstryde onvoorspelbaar kan wees. ’n Briljante vertoning deur een of twee spelers kan die hele wedstryd op sy kop keer.

Die Leeus het intussen net een verandering aan hul span aangebring. Die stut Jacques van Rooyen is terug op die bank in die plek van die losvoorspeler, Kwagga Smith. Hierdie skuif van Johann Ackermann, afrigter van die Leeus, dui daarop dat hulle reg wil wees om die Wp in die vaste fasette aan te durf en vandaar die wedstryd te probeer oorheers.

Die twee spanne se statistiek wys egter dat albei daarvan hou om met die bal te hardloop en daarom mag die Curriebeker finaal van 2014 dalk net een van die opwindendste in baie jare wees.

Daar is darem hoop vir die Blou Bulle se ondersteuners om ook ’n beker of twee huistoe te bring. Die Blou Bulle se twee junior spanne, die o.19’s en die o.21’s, speel albei Saterdag in die eindstryde van hul onderskeie ligas. Albei speel ook teen hul eweknieë van die WP en dié wedstryde sal diens as voorwedstryde vir die groot Curriebeker finaal op Nuweland in Kaapstad.

Padwedlope

Die feestyd kom nader en vir almal wat nie té skuldig wil voel oor die oordadigheid rondom die kospotte wat voorlê nie, is daar darem nog elke naweek ’n opsie om saam met ’n paar duisend ander atlete op die pad te sweet.

Hierdie naweek kom die WNNR se jaarlikse halfmarathon aan die beurt. Die wedloop bestaan uit ’n 21.1km halfmarathon, asook ’n 10km wedloop vir diegene wat nie kans sie vir die halfmarathon nie. Daar is oudergewoonte ook weer ’n 5km pretdraf vir die res wat net graag bietjie wil sweet. Al die wedlope sal begin by die WNNR se konferensiesentrum (ingang vanuit Meiring Naudéweg) en die wegspringtyd is om 06:00.

Krieket

Die Titans het gladnie ’n goeie begin gehad in die nasionale Momentum eendagreeks nie. Hulle het hul eerste twee wedstryd verloor en verlede naweek se wedstryd teen die Knights in Benoni is boonop afgelas weens die swak en gevaarlike oppervlakte van die baanblad. Die gevolg is dat die Titans tans heel onder aan die puntelys is en hul sokkies baie vinnig sal moet optrek as hulle nog hoop om die top drie vir die uitspeelrondtes te haal.

Hierdie naweek speel die Titans Vrydagaand op SuperSport Park in Centurion teen die Cape Cobras, terwyl hulle die Warriors Sondag in Port Elizabeth sal aanvat.

Intussen vaar die amateurmanne van Northerns Cricket darem heelwat beter as hul professionele kollegas. Dié span, onder leiding van Cobus Pienaar lê tans heel bo aan die puntelys in Afdeling A van die nasionale eendag-liga. Hul volgende wedstryd in op 16 November teen Westelike Provinsie in Oudtshoorn.

Boks

’n Paar Suid-Afrikaners kry hierdie naweek die geleentheid om hulself op die wêreldverhoog bekend te stel as hulle deelneem aan die sogenaamde “Title Tornado”-toernooi in Monaco. Dié toernooi, wat as ’n deurbraak vir die deelnemende plaaslike boksers beskryf word, sal deur ’n paar honderd-miljoen TV-kykers wêreldwyd gesien word.

Die kollig sal veral val op twee plaaslike boksers se vertonings. Eerstens veg Hekkie Budler van Suid-Afrika in die strooigewig afdeling teen Xiong Zhao Zhong van China vir verskeie wêreldtitels.  Budler se WBA- en IBO-titels sal op die spel wees, terwyl sy teenstander die voormalige WBC kampioen is.

Die opkomende Suid-Afrikaanse ster, Ryno Liebenberg, sal ook in Monaco in aksie wees teen Eleider Alvarez van Colombië en die WBC se Silwer Ligswaargewig titel is op die spel.

Vir meer nuus, besoek Rekord op Facebook en Twitter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button