Sport

Blou Bulle lyk reg vir stryd teen hul bure

Die Blou Bulle het Vrydagaand op Loftus Versfeld ’n oorywerige skeidsregter, ’n gedetermineerde span van die Cheetahs en ongure weerstoestande oorkom om hul vyfde agtereenvolgende oorwinning in die Curriebekerreeks te behaal.

Die Cheetahs het Vrydagaand duidelik na Loftus Versfeld opgeruk om wraak te neem ná die pak slae wat hulle sowat ‘n maand gelede in Bloemfontein gekry het.

Dít gee ekstra betekenis aan Lappies Labuschagne en sy makkers se oorwinning van 24-17 oor die Vrystaters.

Hierdie oorwinning dui daarop dat die jong span van die Blou Bulle reeds geleer het om onder moeilike omstandighede en onder druk vas te byt en steeds te wen, terwyl hulle nie hul positiewe spelstyl in die proses versaak nie.

Tot dusver het buitefaktore soos die weer telkens saamgespeel en die Blou Bulle se jong span kon hulself uitleef in hul nuwe spelpatroon.

Vrydagaand was egter nie net ‘n karaktertoets teen ‘n begeesterde span van die Cheetahs nie, maar dit het ook gewys dat die Blou Bulle onder moeilike omstandighede, soos die nat veld en reënweer, kon aanpas sonder om stereotipies terug te val op ‘n rigiede hoogskop-en-jaag spelpatroon.

Terloops, Franco Smith se Cheetahs is beslis baie beter as wat hul vyfde plek op die puntelys aandui en dit maak die Bulle se vertoning juis betekenisvol.

Die Cheetahs het die wedstryd teen ‘n reuse-tempo begin en die Bulle was vir byna ‘n kwartier onder groot druk.

Hul verdediging is behoorlik beproef, maar dit het gehou en by die eerste werklike geleentheid wat hulle gekry het, het die vaardige en vinnige agterspelers van die tuisspan gesorg vir die eerste drie van die wedstryd.

Burger Odendaal se drie, waarmee hy ‘n beweging van 70 meter in die linkerhoek afgerond het, was seker die beste bewys dat hierdie span reg is vir groter dinge.

Dit was hul eerste werklike geleentheid en hulle het dit deeglik benut en suksesvol afgerond. Dít is waarskynlik die groot verskil tussen die huidige Curriebekerspan en die SuperRugby-span van vroeër hierdie seisoen.

Daardie span van Pierre Spies kon eenvoudig nie ordentlik afrond as hulle geleenthede gekry het nie.

Nollis Marais en sy bestuur weet egter dat daar nog baie harde werk voorlê voordat hulle aan halfeindrondes kan dink of drome van glorie kan begin droom.

Soos enige span wat nog besig is in hul boufase het hierdie Curriebekerspan van die Bulle ook hul swakplekke. Die grootste kommer is natuurlik nog rondom hul skrumwerk.

Hoewel die skrums Vrydagaand baie bestendiger verloop het, was dit steeds nie goed genoeg vir ‘n span wat sy oog op die beker het nie. Boonop sal hulle eerskomende Saterdag met die beste skrum in die kompetisie te doen kry as hulle die Goue Leeus op Loftus Versfeld pak.

Swak skrumwerk teen die Leeus sal fataal wees en dit kan die Blou Bulle se gevaarlike agterlyn byna neutraliseer.

Die nuwe voorry, met Pierre Schoeman en Marcell van der Merwe as stutte, was skaflik teen die Cheetahs, maar daar skort nog iets met die skrums. Dit wil byna lyk of die vaste vyf nog nie as ‘n eenheid saamwerk in die skrums nie en daar sal waarskynlik weer na die rol van die twee slotte ook gekyk moet word.

Die Bulle se verdediging lyk al baie beter, maar oomblikke van konsentrasieverslapping kom nog voor, net soos by die SuperRugby-span vroeër vanjaar.

Die Cheetahs se eerste drie Vrydagaand, wat deur Rayno Benjamin gedruk is, was ‘n goeie voorbeeld. Die Bulle se verdedigingslinie is darem net té maklik verbreek.

Daar was egter Vrydagaand ook helder ligpunte in die Bulle se vertoning.

Die grootste hiervan is dat die Bulle uiteindelik weer iemand het wat vir Deon Stegmann kan instaan as hy afwesig is, soos nou weer tydens sy gesigbesering.

Dit was in die verlede duidelik dat die Blou Bulle sonder Deon Stegmann net nie dieselfde span is nie en dat hul effektiwiteit by die afbreekpunte groot skade gely het sonder sy bydrae.

Soos Roelof Smit egter Vrydagaand gespeel het, is dié probleem opgelos. Smit was uiters effektief en sy bydrae sal broodnodig wees in eerskomende naweek se stryd teen die Lions, wat oor puik losvoorspelers beskik.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button