Ralepelle se rugbyloopbaan in gedrang weens steroïede
Chiliboy Ralepelle, voormalige Springbok en Bulls haker, se rugbyloopbaan word bedreig nadat hy vir twee jaar uit alle rugby geskors is weens die gebruik van steroïede.
Die gewese Springbok en Bulls haker, Chiliboy Ralepelle, sal eers weer oor ’n jaar kan rugby speel nadat hy skudig bevind is aan die gebruik van verbode steroïede.
Ralepelle is reeds in Junie verlede jaar positief getoets. Hy was in daardie stadium in diens van die Franse klub Toulouse. Ralepelle was besig om te herstel van ’n ernstige kniebesering, toe hy onverwags buite die seisoen getoets is.
Nadat Ralepelle aanvanklik appèl aangeteken het, het hy onlangs skielik die appèl teruggetrek. Dit beteken dat hy inderdaad skuld beken het en dat hy outomaties, volgens die reëls van die Internasionale Rugbyraad (IRR) vir twee jaar geskors sal word.
Die skorsing sal in werking gestel word vanaf die datum van sy toets, wat beteken dat hy in Junie 2016 weer sal kan rugby speel.
Ralepele is volgens aanduidings terug in Suid-Afrika en hy sou ook outomaties sy kontrak met Toulouse verloor het. Hoewel hy op 11 September eers 29 jaar oud word en dus sy loopbaan volgende jaar ná die skorsing kan voortsit, is dit te betwyfel of hy weer ’n top kontrak in Suid-Afrika of oorsee aangebied sal word.
In Desember 2010 was Ralepelle ook in die nuus toe hy en die vleuel, Bjorn Basson, op ’n Springbok toer in Europa positief getoets het vir die verbode middel, metielheksaniamien.
Dié twee Springbokke is later onskuldig bevind omdat hulle glo die opkikker onwetend ingekry het as deel van die Springbokke se amptelike aanvullings-produkte.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos naeditorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
