Local sportSchool sportSport

Curro Podium atletiekbyeenkoms lok byna 40 deelnemende skole na Pilditch

Curro Holdings se Curro Podium atletiekbyeenkoms is verlede week vir die tweede keer aangbied op die Piltitch baan en ten spyte van die feit dat die seisoen basies nou eers begin het, was daar skitterende prestasies op die baan sowel as in die veld.

Die tweede Curro Podium Atletiekbyeenkoms is verlede week op die Pilditch baan in die weste van Pretoria aangebied.

Hierdie produk, wat aangebied word deur Curro Holdings, die beheermaatskappy van die Curro Skole regoor Suid-Afrika, blyk besonder gewild te wees.

Verlede week het 38 skole weer vanoor die Noordvaal streek ingekryf om deel te neem aan die kompetisie, wat bekendgestaan het as die Curro Podium Noordelike Streek atletiekbyeenkoms.

Ten spyte van die feit dat dit vir skoolkinders ’n geleentheid bied om as deel van hul voorseisoen voorbereiding hulself teen die bestes te toets, is die aanbieding van hierdie byeenkoms ook ’n kans om vir oulaas op groot skaal aan ’n sportbyeenkoms deel te neem voor die eindeksamens afskop.

Daar was ook besonder goeie vertonings deur sommige atlete, wat die meeste atletiekliefhebbers opgewonde sou maak oor dit wat later in die seisoen (vroeg in die nuwe jaar) kan volg.

Die span van Hoërskool Menlopark het die byeenkoms weer gewen, net soos hulle gemaak het tydens die eerste aanbieding daarvan vroeër vanjaar. Menlo se seuns (19465) en meisies (19895) het met hul totaal van 39360 stof in die oë geskop van al die ander deelnemers.

Die groot verrassing van die byeenkoms was die vertonings van die span van Curro Hazeldean, wat met ’n groottotaal van 37681 in die tweede plek geëindig het. Derde was Hoërskool Noordheuwel, wat met ’n puntetotaal van 36493 baie groter atletiekkragte geklop het.

Noordheuwel word gevolg deur Hoërskool Zwartkop (36153), Hoërskool Montana (36063), Pretsige College van Hammanskraal (35407), Hoërskool Waterkloof (35401), Helpmekaar Kollege (35272) Hoërskool Randburg (34866) en in die tiende plek, Midstream Kollege (34165).

Verskeie wêreldklas vertonings is by die byeenkoms opgedis, terwyl sestien byeenkoms rekords in die slag gebly het.

Een van die merkwaardigste vertonings van die dag was toe Toesetso Mosiama van Curro Hazeldean die verspring vir seuns o.17 met ’n asemrowende 7,86m gewen het. Dié poging is 1000 punte werd op die Athletics Performance Evaluation (APE) puntetabel.

Nog vier ander atlete kon, soos Mosiama, volpunte op die APE tabel verdien. Hulle is Chris Swanepoel van Menlopark wat die diskus vir seuns o.15 met ‘n afstand van 63,40m gewen het; Matodz Ndou van Curro Hazeldean het die 400m hekkies vir seuns o.17 in 51,01sek afgelê; TuksSportSkool se Phenyo Miyen het die 300m hekkies vir seuns o.15 in 36,53sekondes gewen en Megan Nieman van Menlopark het die 90m hekkies vir meisies o.15 in 12,61 sekondes afgeblits.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button