Local sportSchool sportSport

Sporthoogtepunte vir die naweek

Sportliefhebbers kan 'n naweek vol van aksie verwag.

Nóg ’n propvol naweek lê vir sportliefhebbers voor en of jy nou voor die kassie wil sit en kyk of langs die speelveld gaan wees, die aksie hou nie op voor die laaste skoot kort voor skemer Sondagaand in die Comrades marathon gaan klap nie.

Rugby

Die grootste rugbygebeurtenis wat hierdie naweek in Pretoria plaasvind is die jaarlikse Bulletjiedag, wat op Loftus Versfeld se B-, C-, en D-velde plaasvind. Meer as 5000 spelertjies tussen die ouderdom van 5 en 9 sal daaraan deelneem, terwyl byna tweekeer soveel ondersteuners langs die veld sal wees om die mannetjies uit volle bors te ondersteun.

– Die Beeldtrofee skolereeks word hierdie naweek voortgesit met ’n paar interessante tweestryde wat voorlê vir die skolerugby-liefhebbers.
– Nadat Centurion die afgelope twee weke vriend en vyand verras het deur eers vir Menlopark te klop en daarna byna dieselfde met Affies te doen, heers daar groot afwagting oor hul wedstryd teen Waterkloof hierdie naweek.
– Die Hoërskool Garsfontein, wat tot dusver onoorwonne is in die Beeldtrofee-reeks, speel Saterdag teen Eldoraigne in Centurion.
– Die Afrikaans Hoër Seunsskkool was die afgelope week in die nuus oor hul “beginselstandpunt” teen skole wat met “huursoldate” rugby speel. Hulle kom egter hierdie naweek in ’n vriendskaplike derby te staan teen Jeppe Boys’ High van Johannesburg op laasgenoemde se tuisveld.
– Menlopark speel ook hierdie naweek in ’n vriendskaplike wedstryd wanneer hulle tuis teen Parktown Boys’ High van Johannesburg sal kragte meet.

– Die Carltonbekerreeks vir klubspanne in Pretoria se vierde rondte breek hierdie naweek aan en die groot wedstryd van die naweek is natuurlik die tradisionele groot derby tussen die tradisionele aartsvyande, Tukkies en Polisie. Dié twee spanne is die enigste twee onoorwonne spanne in die toernooi en ’n titaniese stryd word verwag. Hoewel Tukkies die gunsteling is met hul span vol professionele spelers, het Polisie baie ervaring en hulle het beslis die vermoë om ’n verrassing te lewer. Terwyl die Naka Bulle hierdie naweek ’n loslootjie geniet, sal die vier spanne in die ander twee wedstryde almal hard probeer om hul posisie op die puntelys te verbeter. Centurion sal op hul tuisveld weer op die wenpad probeer kom teen TUT, terwyl Oostelikes en Harlequins in die derde wedstryd kragte sal meet op eersgenoemde se tuisveld.

– In die SupeRugby toernooi vind daar Saterdag twee groot plaaslike derbies plaas. Saterdagmiddag om 17:00 speel die Lions op Ellispark teen die Bulls en direk daarna pak die Sharks en die Stormers mekaar in Durban. Die Cheetahs het hierdie week ’n loslootjie.

Krieket

Die Indiese Premierliga kriekettoernooi (IPL) se eindwedstryd breek hierdie naweek uiteindelik aan.
Een van die spanne sonder enige Suid-Afrikaners in hul geledere, die Kolkata Knight Riders, het reeds vir die finaal gekwalifiseer. Teen druktyd was die tweede finalis nog nie bekend nie. Dit sal egter die wenner wees van die halfeindrondte tussen Kings XI Punjab met die Suid-Afrikaners David Miller en Beuran Hendricks in hul geledere en die Chennai Super Kings, wat oor die dienste van Faf du Plessis beskik. Die finaal sal Sondag gespeel word.

Padwedlope

Op Saterdagoggend 31 Mei vind die jaarlikse Great Run by die Weskoppies hospitaal plaas vir alle langasems wat nie hierdie naweek in KwaZulu Natal byeen is nie.
Die padwedloop toneel word egter die naweek oorheers deur die wêreld se bekendste ultra marathon, die Comrades, wat tussen Pietermaritzburg en Durban gehardloop word. Duisende Pretorianers sal ook die langpad aandurf, terwyl tienduisende ondersteuners hulle met bewondering langs die pad en op TV sal dophou.
Twee plaaslike vroue van Centurion is die Pretorianers met die beste kans op goue medaljes in vanjaar se wedloop. Pretorianers sal dus styf duime vashou vir Chrané Bosman (wat verlede jaar in die vyfde plek geëindig het) en ’n voormalige goue medalje wenner, Riana van Niekerk.

Netbal

Die voorlaaste rondte van die nuwe plaaslike professionele netbalreeks, die Brutal Fruit Netball Cup, breek hierdie naweek aan. Die toernooi word beslis in die Rembrandtsaal op die sportkampus van Tukkies. Twaalf professionele spanne vorm deel van die nuwe reeks en die plaaslike span staan bekend as die Jaguars. Dié span bestaan hoofsaaklik uit spelers van Gauteng-Noord. Die finaal van die reeks vind op 8 Junie plaas, wat beteken dat hierdie naweek se wedstryde deurslaggewend gaan wees om die kandidate vir die halfeindrondte te bepaal.

Die Jaguars sal Saterdagoggend reeds om 10:30 in aksie wees teen die Crinums van die Vrystaat, terwyl hulle Sondag weer om 12:00 teen die Golden Fireballs van Johannesburg sal speel.

Tennis

Vir tennisliefhebbers is daar natuurlik die jaar se tweede sogenaamde Grand Slam toernooi, die Franse Ope, wat op TV gevolg kan word. Hoewel Suid-Afrika nie enige groot belange by die toernooi het nie, bly ’n toernooi van hierdie omvang altyd nuuswaardig vir liefhebbers van die sport. Daar was ook al groot skokke in die eerste week van die toernooi en veral in die vroue-afdeling lyk dit of daar nog baie vuurwerke gaan wees op pad na die finaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button