Sporthoogtepunte vir 2-3 Augustus 2014
Hier volg die sporthoogtepunte vir die naweek.

Met die winter wat stadig maar seker besig is om sy ergste greep te versag, ontwaak die sportwêreld ook vinnig en die kalender word nou byna elke naweek besiger.
Verskeie sportsoorte wat die afgelope drie maande redelik stil was, begin nou weer in rat kom en die sportweek wat voorlê wys duidelik dat Suid-Afrikaners nou weer lus raak om die hitte van die kaggelvuur in die huis te verlaat. Ook op die internasionale front lyk Augustus na ’n baie besige maand.
Statebond Spele
Die Statebond Spele, wat waarskynlik onder die top vyf sportgeleenthede ter wêreld tel wat grootte en omvang betref, maak hierdie naweek klaar ná tien opwindende dae van puik sportprestasies.
Teen Vrydagoggend het Suid-Afrika reeds 37 medaljes verower, wat hierdie Spele die suksesvolste ooit vir dié land maak. Daar is egter nog ’n paar eindrondtes wat oor die naweek sal plaasvind waarin Suid-Afrikaners betrokke is en op hierdie stadium is dit nie onmoontlik dat SASCOC se mikpunt van tussen 40 en 45 medaljes behaal sal word nie.
Rugby
Skole: Die Beeldtrofee toernooi is in die pylvak en hierdie naweek breek die kwarteindrondte vir die groot skole aan, terwyl die makro skole ook in die uitspeel-fase is. Plaaslike skole wat betrokke is, is Menlopark (teen Rustenburg, weg), Waterkloof (teen Kempton Park, tuis), Centurion (teen Florida, weg) en Oos Moot (teen Linden, tuis).
Affies, wat nie by die Beeldtrofee-uitspeelwedstryde betrokke is nie, speel teen Glenwood van Durban op hul tuisveld in Pretoria, terwyl Pretoria Boys High Natal toe moet reis vir hul wedstryd teen Maritzburg College.
Klubrugby: Die Carltonbekerreeks vir klubspanne in Pretoria is baie naby aan die finaal en die kandidate vir dié eindstryd is reeds bepaal. Omdat Polisie en Tukkies volgende week ook in die finaal slaags raak, sal hulle waarskynlik hierdie Saterdag nie met hul volstrekte spanne opdraf in die laaste ligabepaling, waarin hulle toevallig ook teen mekaar te staan kom nie.
Die SupeRugby se eindstryd word Saterdagoggend om 11:40 (SA tyd) in Sydney beslis tussen die Waratahs en die Crusaders. Die manne van Australië het reeds twee keer (2005 en 2008) die finaal van hierdie kompetisie gehaal, maar ironies genoeg is hulle beide keer deur die Crusaders in die eindstryd geklop.
Hoewel die Curriebeker toernooi eers volgende week begin, vind verskeie opwarmingswedstryde hierdie naweek plaas. Die Blou Bulle het reeds Vrydagaand in Nelspruit teen die Pumas gespeel.
Padwedlope
Die jaarlikse Tswhane halfmarathon, wat deur die Tswhane Atletiekklub aangebied word, vind Saterdagoggend by Medunsa in die noordooste van Pretoria plaas. Hoewel die wedloop amptelik as ’n halfmarathon bekendstaan, is daar ook die opsie van ’n 10km wedloop vir die minder fikses, terwyl die tradisionele 5km pretloop ook ’n opsie is vir diegene wat aan die oefen wil kom vir die komende somermaande.
Gholf
Kort op die hakke van die Britse Ope gholftoernooi volg daar in die komende week nóg een van die vier “majors”, wanneer die wêreld se beste spelers aanstaande Donderdag in Louisville, Kentucky, in die VSA op die baan van die Valhalla Golf Club sal aantree vir dié gesogte titel. Gary Player (1962 en 1972) bly die enigste Suid-Afrikaner wat hierdie titel ooit kon wen en ’n hele paar van sy landgenote sal weer vanjaar daar wees om te probeer geskiedenis maak.
Krieket
Met die suksesvolle toer van die Proteas na Sri Lanka agter die rug, het die land se top krieketspelers nou ’n ruskans en die klem word verskuif na twee ander reekse wat hierdie week plaasvind.
Suid-Afrika se nasionale o.19 span speel in Cambridge teen hul eweknieë van Engeland in ’n “toets” wat op Vrydag 1 Augustus begin het en eers op Maandag 4 Augustus sal klaarmaak.
Later in die week (7-10 Augustus) kom die Suid-Afrikaanse “A” span te staan teen Australië “A” in Townsville (noord van Brisbane), Australië.
Stoei
Die jaarlikse Johnnie Reitz Big 5 Ope stoeikampioenskappe word Saterdag by die Rembrandtsaal by die Tuks sportsentrum aangebied. Verrigtinge begin reeds om 08:30. Dit is een van die grootste stoeitoernooie in Suid-Afrika en wat hierdie toernooi meer uniek maak is dat die medaljes wat stoeiers ontvang, elke jaar met die kop van een van die groot vyf diere agterop gedruk word. Vanjaar kom die renoster aan die beurt.
