Blou Bulle kry nuwe president
Na maande se gewoel agter die skerms én ’n paar gewetenlose skuiwe op die skaakbord van rugbypolitiek deur betrokke administrateurs, het die Blou Bulle verlede week uiteindelik ’n nuwe president gekry.
Die paleisrevolusie op Loftus Versfeld is verlede week gedeeltelik geslaagd uitgevoer toe Louis Nel ná vier-en-‘n-half jaar as president van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) onttroon is.
Nel is deur die sakeman en voorsitter van Polisie rugbyklub, Gert Wessels, in ‘n taai stryd om die presidentskap getroef.
Getrou aan die geskiedenis van die rugbypolitiek in Loftus Versfeld se raadsale was daar ongelukkig ook slagoffers in hierdie stryd. Om van die beleërde Nel ontslae te raak, moes daar agter die skerms kompromieë aangegaan word en in die proses het die Carltonbekerklubs se kandidaat vir die pos van adjunkpresident in die slag gebly.
Willem Strauss, wat gesien is as die man met die regte rugby-CV om amateurrugby by die Blou Bulle dramaties te vernuwe, is geoffer in die skaakspel van rugbypolitiek sodat daar eerstens van Nel ontslae geraak kon word. In die proses is daar geskiedenis gemaak toe Henry Adendorff, voorsitter van die Dragons rugbyklub in die noorde van Pretoria, die eerste adjunk-president geword het wat nié uit die geledere van die Carltonbekerklubs kom nie.
Adendorff is een van die jonger manne wat by die sage betrokke was, maar hy het glo die rugby politiek soos ‘n veteraan gespeel om homself in die stoel van adjunkpresident verkies te kry. Hy was aanvanklik in die Nel-kamp, maar het na verneem word ‘n paar keer sy mantel na die wind gedraai en uiteindelik saam met manne onder sy invloed teen Nel gedraai in die presidentsverkiesing, in ruil vir die “guns” om dan as die adjunkpresident in Tshwane verkies te word.
Strauss was die groot verloorder in hierdie proses, maar die uiteinde van die verkiesing kan dalk in die toekoms wrang vrugte voortbring, veral wat die toekoms van Carltonbeker-rugby betref. Volgens sommige waarnemers is die belangrike punt van hierdie gebeure egter die feit dat daar weer iemand in die presidentstoel sit wat waarlik die belange van klub- en amateurrugby op die hart dra.
Wessels het homself al in die verlede bewys as ‘n rugbyman in murg en been met ‘n passie vir klub- en amateurrugby en met hom aan die stuur sal daar beslis vorentoe beweeg kan word. Die feit dat hy ‘n gesiene en uiters suksesvolle sakeman is, het boonop twee voordele.
Eerstens kan die rugbypubliek verseker wees dat Wessels nie daar is ter wille van homself nie, aangesien hy beslis nie nodig het om geleenthede in rugby te soek om homself te bevoordeel nie.
Daarbenewens kan dit net goed wees vir die BBRU as iemand wat die unie se belange op die hart dra ook in ‘n sterk posisie op die direksie van die Blou Bulle Maatskappy is. Hoewel Wessels lank reeds op die maatskappy se direksie dien, sal sy posisie as president broodnodige balans verskaf, wat skynbaar nie die afgelope jare teenwoordig was nie.
Nel se posisie is na dese ook interessant. Hy is vir jare al nie meer aktief betrokke by enige klub of vereniging nie en sy nederlaag teen Wessels beteken dat hy nou heeltemal in die rugbywoestyn is. Hy sal eers weer iewers op voetsoolvlak betrokke moet raak as hy hoop om sy loopbaan as rugby-administrateur te weer op te bou.
Hoewel Strauss uiteraard teleurgesteld en ontnugter behoort te wees met die ongenaakbare deel van rugbypolitiek waarmee hy te doen gekry het sedert hy twee jaar gelede aktief by klubrugby betrokke geraak het, was hy nie moedeloos of negatief toe Rekord verlede week met hom gesels het nie.
Volgens Strauss het hy steeds hoop om sy progressiewe planne vir klubrugby te implementeer en hoop hy om goeie samewerking daarvoor te kry van die nuwe topbestuur. Strauss is steeds ‘n visepresident van die unie en sy kennis en ervaring as sportpromotor en rugby-entrepreneur kan goud werd wees vir die BBRU.
* Henry van Aswegen is op dieselfde vergadering verkies as die adjunkpresident uit die Limpopo streek.
