Serfontein, Matfield blink uit vir krieket-Springbokke
Die Springbok rugbyspan het die Proteas krieketspan die afgelope naweek geskok deur hulle pakslae te gee in hul eie spel toe hulle die wedstryd op die Wanderers met ses paaltjies gewen het.
Dit was dalk nie ‘n volwaardige krieketwedstryd wat deur die puriste ernstig opgeneem is nie, maar die vertoonwedstryd tussen die Proteas en die Springbokke op die Wanderers in Johannesburg was topklas-vermaak vir die 20 000 toeskouers wat dit bygewoon het.
Weens beurtkrag-probleme het sommige van die toeskouers letterlik ure lank deur die swaar Vrydagmiddag-verkeer van Johannesburg geworstel om by die Wanderers uit te kom, maar toe die wedstryd uiteindelik begin het, kon hulle van al hul sorge vergeet en puik aksie aanskou.
In die vorige kragmeting tussen die twee spanne, Januarie vanjaar in Kaapstad, het die Proteas redelik maklik gewen. Hierdie keer was daar egter ‘n paar manne in die Springbokke se groep wat gewys het dat hulle netsowel ‘n krieketloopbaan kon volg en steeds sou uitblink. Die Bokke het uiteindelik met ses paaltjies gewen.
Victor Matfield, wat op skool provinsiale krieket gespeel het, was weer die Bokke se top kolwer en sy 62 lopies van 36 balle het agt viere en twee sesse ingesluit.
Die Bokke se beste bouler was Willie le Roux wat drie paaltjies vir net vier lopies geneem het in sy twee boulbeurte. Dit was egter die vangskoot waarmee Le Roux van Kagiso Rabada ontslae geraak het, wat die toeskouers iets gegee het om oor te gesels. Le Roux moes ver retireer en uiteindelik agtertoe duik, maar hy het die bal enkele meter van die grenstou af met een hand beetgekry, na ‘n hou wat veronderstel was om oor die grens te trek.
Hoewel Tiaan Liebenberg (24), Butch James (25) en Willem Alberts (24 van sewe balle) ook goeie bydraes gelewer het, was baie van hul houe grenshoue met die hulp van brute krag.
Veral Alberts het gewys waar die krag vandaan kom waarmee hy teenstanders se ribbes kraak met sy laagvatte op die rugbyveld. Hy het sy breë skouers behoorlik oopgemaak en drie reuse sesse gemoker om die wedstryd af te sluit.
Die Bokke se indrukwekkendste kolwer was egter die senter, Jan Serfontein (20 nie uit nie van 15 balle). Enige krieketkenner sou na net ‘n paar balle kon sien dat dié talentvolle jongman kán krieket speel. Sy houe was soms uit die boek en sy tydsberekening het getuig van die ongelooflike sporttalent waaroor dié beskeie jongman beskik.
Met ‘n bietjie skaafwerk kan Serfontein maklik provinsiale krieket speel.
Die enigste man aan die kant van die Proteas wat in hierdie wedstryd sonder ‘n knou aan sy reputasie daarvan afgekom het, was Hasim Amla. Hy het 51 onoorwonne lopies geslaan voor hy uitgetree het om ander kolwers ‘n kans te gee om aan die pret deel te neem.
