Bulls se vertoning in Londen bring hoop
Hoewel die Bulls se skrumwerk steeds rede tot kommer is, lyk dit tog of hul spelpatroon en die diepte in hul spelersgeledere vanjaar redes kan wees vir ‘’n baie beter seisoen in die SuperRugby toernooi.

’n Nuwe gees van optimisme oor die komende rugbyseisoen is skielik waarneembaar onder ondersteuners van die Bulls na hul oorwinning van 39-26 Saterdag oor die Engelse Premierliga klub Saracens.
Die Bulls kon verlede seisoen net-net nie die uitspeelrondtes van die SuperRugby toernooi haal nie. By nabetragting was die meeste kenners dit eens dat daar vier basiese redes was vir hul swak seisoen.
Eerstens glo die meeste kenners én ondersteuners dat die Bulls se spelpatroon verouderd en té voorspelbaar geword het en dat drastiese aanpassing nodig was.
Tweedens was daar, ná ’n uittog van top spelers wat drie agtereenvolgende seisoene geduur het, ’n krisis ten opsigte van diepte in die Bulls se spelersgroep. Een van die basiese voorwaardes wat Heyneke Meyer ná sy span se sukses in 2007 reeds gestel het vir ’n geslaagde seisoen in dié moeilike reeks, is juis die feit dat daar diepte moet wees. Meyer het so ver gegaan om die vereiste te stel dat elke span twee tot drie top spelers in elke posisie beskikbaar moet hê.
Die Bulls se derde probleem in 2014 was die gebrek aan ’n top losskakel ná die vertrek van Morné Steyn. Hul eerste keuse in dié posisie, Louis Fouché, het binne enkele weke in die toernooi skouspelagtig misluk en daar moes ’n noodsein gestuur word Frankryk toe, waar Jacques-Louis Potgieter uit die Franse tweedeliga gaan haal is om te kom help.
Hoewel Potgieter sy deel gedoen het en ’n mate van stabiliteit gebring het in die losskakelposisie, is hy nie werklik die langtermyn-antwoord in dié sleutelposisie nie.
Die vierde krisis wat die Bulls verlede jaar getref het, was die verlies weens beserings van top losvoorspelers soos Pierre Spies, Deon Stegmann, Arno Botha en Dewald Potgieter. Hierdie vier manne is almal leiers in die span en veral Stegmann se teenwoordigheid is erg gemis, nadat hy vroeg in die seisoen beseer is. Die Bulls het die seisoen voltooi sonder ’n erkende baljagter, wat fataal was vir hul aanslag.
Die afgelope Saterdag se oorwinning in Londen teen Saracens het aan Bulls ondersteuners rede gegee om positief te wees. Al vier verlede jaar se kernprobleme lyk of dit vanjaar aangespreek sal word. Daar is beslis baie meer diepte in die spelersgroep, veral onder die losvoorspelers.
Daarby bring die beskikbaarheid van Handré Pollard op losskakel gemoedsrus, terwyl dit duidelik is dat die Bulls hul spelpatroon vanjaar gaan afwissel en baie meer met die bal in die hand gaan speel, soos Frans Ludeke inderdaad reeds verlede jaar beloof het.
Die enigste werklike rede tot kommer is die Bulls se swak vertoning in die vaste skrums, waar Werner Kruger se gesukkel van verlede seisoen voortgeduur het. Dit het in die tweede helfte beter gegaan, maar toe verlaat die Springbok Marcell van der Merwe die veld met ‘n besering. Die aard en erns van sy besering sal eers later in die week bekend wees, maar dit kan ’n krisis vir die Bulls wees. Met die uittrede van Frik Kirsten weens ’n nekbesering en die opkomende ster, Hencus van Wyk, wat ook nog weens ’n besering uit aksie is, lyk die reserwekrag maak yl gesaai op vaskopstut.
As die skrumprobleme egter uitgesorteer kan word, behoort die Bulls vanjaar ’n baie beter seisoen te beleef. Hulle kan selfs tydens die eerste drie moeilike weke, waar hulle agtereenvolgens teen die Stormers, Hurricanes en Sharks moet speel, die rugbygemeenskap verras en ’n baie goeie wegspring hê in hierdie laaste seisoen van SuperRugby in sy huidige format.
