Klofie Netbalfees lok meer as duisend spelers
Meer as ‘n duisend skole-netbalspelers trek vanaf Donderdag af saam by die Hoërskool Waterloof om deel te neem aan die jaarlikse Barloworld Klofie-Netbalfees.
Hoërskool Waterkloof het van die mees gespesialiseerde netbalafrigters in Suid-Afrika en daarom vind ontwikkeling van spelers op alle vlakke plaas.
Rekord-oorwinnings en die aanwysing as die land se top netbalskool is deel van die prestasies. Talle Klofie-netbalspelers word jaarliks in provinsiale en nasionale spanne opgeneem. Nog ‘n unieke uitvloeisel van Waterkloof se netbaluitnemendheid is die skool se jaarlikse internasionale netbalfees wat hierdie week weer aangebied word.
Die jaarlikse Barloworld Klofie-netbalfees met skolespanne van regoor Suid-Afirka en Namibië trek op die skoolterrein saam vir vier dae se top netbal. Die agtste Barloworld Klofie-Netbalfees vind hierdie week plaas tussent 26 en 30 Maart by Hoërskool Waterkloof. Meer as 114 spanne, 37 skole en 1 118 netbalspelers sal mekaar die stryd aansê in dié skole-netbalfees. Die aksie begin daagliks om 08:00, behalwe op Maandag 30 Maart, wanneer verrigtinge reeds om 07:30 begin. Donderdag en Vrydag sal wedstryde tot 21:30 gespeel word, Saterdag tot 20:00 en Maandag slegs tot 15:30.
Hierdie syfers en feite toon dat die reeks sy kinderskoene ontgroei het en deesdae onder die beste soortgelyke reekse in die land tel. Daan Potgieter, hoof van Hoërskool Waterkloof, is trots op hierdie fees. Eleanor du Toit, direkteur van netbal by Hoërskool Waterkloof, sê elke speler en span speel daagliks taai wedstryde teen skole wat hoofsaaklik buite hulle liga val. Dié formaat voorkom dat skole meer as een wedstryd teen dieselfde teenstander speel. Die toernooi sorg dat krag teen krag speel.
Die hoofdoel van die Klofie-netbalfees is om individue en spanne die geleentheid te gee om hul netbalvaardighede te verbeter voor die netbalseisoen begin en om hopelik in die proses ‘n lewenslange liefde vir die sport te kweek.
Spanne wat inskryf vir die toernooi gebruik die wedstyde ook om voor te berei vir die komende seisoen. Daarom kry elke span geleentheid om die maksimum moontlike wedstryde te speel. Volledige wedstryde van vier kwarte (10 minute elk) word deur eerstespanne gespeel. Ander spanne (o.14, o.15, o.16 en o.17) speel twee helftes van 15 minute elk (normale wedstrydtye) ten einde aan spelers die optimale voorbereidingsgeleentheid vir die seisoen te bied. Navrae: Lizelle Marais by 083-366-7662.
