Waarom verloor die Bulls fokus?
Die tyd het aangebreek dat daar weer gekyk moet word na redes vir die wisselvallige spel wat die Bulls tot dusver vanjaar lewer, want op hul huidige koers waar hulle gereeld fokus verloor gaan dié span nie die uitspeelfase in die SuperRugby toernooi haal nie.
Sal die ware Bulls-span van 2015 nou asseblief by elke wedstryd begin opdaag, sodat mense hul finale keuse kan maak oor hul voortgesette ondersteuning vir dié span.
Eers begin hulle die seisoen só swak dat die grootste deel van hul ondersteuners nie meer wil gaan kyk as hulle op Loftus Versfeld uitdraf nie. Dan skrik hulle skynbaar wakker en speel twee weke agtereenvolgens skitterende rugby, waarin hulle elke keer volpunte verdien op die puntelys.
Toe kom die eerste loslootjie blykbaar heeltemal te vroeg en die Bulls-span wat daarna teen die middelmatige Western Force van Australië opdraf, is só swak dat net die uiters ongedissiplineerde spel van die manne uit Perth hulle red van hul derde nederlaag vanjaar op hul tuisveld. Hulle het met 25-24 gewen.
So, watter span is nou eintlik die Bulls van 2015? Is dit die ploeteraars van Saterdag teen die Western Force, of is dit die manne wat die Sharks drie weke gelede so klinies geslag het? Is dit die manne wat op 28 Februarie teen die Natallers gelyk het na ‘n groep wat tog die uitspeelrondtes sal kan haal vanjaar of is dit die afgelope Saterdag se manne wat sweerlik op dié vertoning geoordeel, teen Tukkies se Varsitybekerspan sou sukkel?
As Pierre Spies en sy makkers nie baie vinning besluit watter een van dié twee spanne in hierdie skisofreniese verskynsel hulle nou eintlik wil wees nie, sal die skade aan die hele opset op Loftus Versfeld vanjaar baie groot word.
Op papier het hierdie span steeds die potensiaal om die volgende kampioenspan uit Loftus se geledere te word. Maar hoe kan jy in een wedstryd eers die opposisie van die merk af skrum, net om ‘n bietjie later verneder te word wanneer die teenstanders die bal doodluiters by een van jou beste baldraers afneem om oor te duik vir ‘n drie? Waar is die intensiteit, die dringendheid en die aggressie waarmee kampioenspanne van die verlede hul teenstanders tot oorgawe gedwing het?
Daar is al in die verlede gesê dat die Bulls tekens toon van ‘n kampioenspan in wording en dat hulle vergewe moet word as daar nog foute insluip in hul spel. Dié stelling kan waar wees, maar dan gaan dit oor tegniese foute wat mettertyd regkom hoe langer die span saamspeel en hoe beter die manne mekaar leer ken. Die helfte van die Bulls se vertonings tot dusver vanjaar dui op ‘n probleem met die ingesteldheid van die spelers. Hardnekkige verdediging, byvoorbeeld, gaan oor ingesteldheid.
Twee van die Western Force se drieë in Saterdag se wedstryd het gekom na uiters swak verdediging van die Bulls. Met ander woorde, die motivering is nie reg nie of daar is sielkundige krapplekke wat spelers se fokus versteur en hulle verhoed om week na week hul beste vir die span en sy ondersteuners te gee. Is dit dalk konflik in die binnekring? Is dit dalk politiek?
Elke deurwinterde ondersteuner en leuenstoel-rugbykenner kan sien dat alles op Loftus Versfeld nie werklik klopdisselboom is nie. Iewers is daar dus ordentlike leierskap nodig om hierdie krapplekke aan te spreek sodat die Bulls so gou as moontlik volgens hul potensiaal kan speel. Die huidige span bevat immers van die opwindendste en talentvolste rugbyspelers in die land. Is dit dan só moeilik om hulle in ‘n gelukkige groep saam te snoer en hulle te slyp tot ‘n rugbymasjien wat weer die Blou trui waardig kan wees?
