Local sportSport

Bulls ruk hulself skouspelagtig reg

Ná Saterdag se vertoning teen die Crusaders op Loftus Versfeld het die Bulls geen verskoning meer om nié onder die top drie spanne in vanjaar se SupeRugby toernooi te eindig nie.

As die Bulls wat Saterdag teen die Crusa­ders by Loftus Versfeld opgedaag het die span is waarop hul ondersteuners die res van die seisoen kan reken, kan die massas maar weer begin kaartjies koop vir die oorblewende tuiswedstryde.

Selfs geswore anti-Bulls rugby-ondersteuners het die afgelope naweek ná die Pretorianers se oorwinning met 31-19 oor die Crusaders op sosiale media verbaas gevra waar hiérdie Bulls dan skielik vandaankom.

Ja, daar was nog probleme. Die twee kritieke lynstaanballe wat die Cursaders gesteel het was onnodig, die Nieu-Seelanders se oorheersing by die afbreekpunte – ten spyte van die feit dat die skeidsregter een van die min in die reeks is wat nie deur Richie McCaw se skelmstreke geflous kon word nie – was ‘n bron tot kommer en die Bulls se glipse op die verdediging, veral in die eerste helfte, kon maklik fataal gewees het.

Daar was egter ook die baie postiewe aspekte. Ironies genoeg was die karakter wat die Bulls op die verdediging gewys het in die laaste 15 minute van die wedstryd een daarvan. So ook was hul skrumwerk bestendig en stewig teen die veelbesproke agttal van die Crusaders. Dan kan ‘n mens nie anders as om die spel van die twee jong manne, wat albei eers 24 uur voor die afskop gehoor het dat hulle opgeroep is om in twee beseerde Springbokke se plekke te speel, te noem nie.

Die 21-jarige Burger Odendaal wat vir die beseerde Jan Serfontein moes instaan, het die wedstryd van sy lewe gespeel en hy was ‘n ernstige kandidaat vir man-van-die-wedstryd. Ook Hanro Liebenberg, wat in Oktober vanjaar eers 20 jaar oud sal word, het soos ‘n gesoute veteraan gespeel toe hy vir die beseerde Arno Botha moes instaan. Liebenberg se afstorm van ‘n skop van die Crusaders was indirek verantwoordelik vir die Bulls se eerste drie, wat binne drie minute na die afskop gevolg het, terwyl Odendaal ses minute later self sy span se tweede drie gaan druk het.

Die vertoning van hierdie twee jong manne het bewys dat die Bulls genoeg diepte in hul groep het om hul standaard week na week te behou, terwyl dit ook positief is vir die span as daar druk is op sterre soos Serfontein en Botha om nie hul plek­ke in die span as vanselfsprekend te aanvaar nie.

Die grootste ligpunt van die wedstryd was egter die feit dat die Bulls nie bang was om met die bal in die hand te speel nie. In die verlede het hulle al verskeie kere met die Crusaders afgereken deur gestruktureerde tienmanrugby te speel. Saterdag het hulle egter hul spel afgerond en ‘n balans tussen aanval met goedgeplaaste skoppe en opwindende hardlooprugby gevind.

Saterdag se wedstryd was slegs die Bulls se sesde in vanjaar se reeks en dié span se vertonings het in die afgelope twee maande reeds erg wipplank gery. Maar hul vertoning teen die Crusaders het onteenseglik bewys dat hulle enige span in hierdie toernooi kan klop. Van hieraf kan daar geen verskonings meer wees nie en niemand sal die Bulls se ondersteuners kan kwalik neem as hulle van hul span verwag om ten minste eerste te eindig in die Suid-Afrikaanse groep en daardeur teen 18 Junie outomaties onder die top drie spanne te wees nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button