Jean de Villiers kuier by Hoërskool Garsfontein
Gaste by ’n spesiale rugbyfunksie in die skoolsaal van die Hoërskool Garsfontein was verlede week besonder beïndruk deur die optrede van die Springbok kaptein, Jean de Villiers.
Daar mag dalk nie veel liefde verlore wees tussen die Bulls en die Stormers of hul ondersteuners nie, maar Springbok-kaptein Jean de Villiers het verlede week by ’n spesiale Hoërskool Garsfontein-funksie gewys dat hy oor provinsiale grense heen steeds besonder gewild en geliefd is by rugbyliefhebbers.
De Villiers het gaste by dié funksie, wat in ’n stampvol skoolsaal aangebied is, letterlik uit sy hand laat eet met sy sjarme en besondere humorsin, terwyl hy respek afgedwing het met die eerlike wyse waarop hy oor Suid-Afrikaanse rugby en sy eie loopbaan gesels het.
Die gaste was ook bevoorreg om die eerste mense in die land te kon wees wat uit De Villiers se eie mond kon hoor waar sake met sy reabilitasieproses staan, ná sy ernstige besering. Hy het gaste getrakteer deur eerstehandse vertellings van alles wat gebeur het in die eerste paar uur nadat hy die besering opgedoen het. Veral die verhaal van sy vrou se betrokkenheid, wat in daardie stadium reeds langer as agt maande swanger was, het die gehoor het aan sy lippe laat hang.
De Villiers het eksklusief aan die gehoor by Garsfontein vertel dat sy reabilitasie só goed vorder, dat hy hoop om in Julie vanjaar reeds weer rugby te kan speel. Hy het ook groot lof gehad vir die Springbok-bestuur en veral vir Heyneke Meyer, wat volgens hom die Bokke se aanslag by die Wêreldbekertoernooi reeds in groot besonderhede beplan het.
Volgens De Villiers glo die Bokke kan sonder veel probleme deur hul groepfase by die Wêreldbekertoernooi kom. Maar hy het aan die gaste verduidelik dat hulle volgens alle aanduidings ’n besonder moeilike stryd in die kwarteindrondte gaan hê, waar hulle teen een van die top drie spanne in dié “groep van die dood” gaan speel. Engeland, Wallis en Australië is almal in hierdie groep geloot.
Die gaste by Garsfontein se funksie was veral beïndruk met De Villiers se besondere skerp humorsin en hulle het soms geskaterlag vir sy kwinkslae. Sy interaksie met laerskoolkinders het ook beïndruk.
Op ’n vraag uit die gehoor oor wie die moeilikste Suid-Afrikaanse teenstander is wat hy ooit as binnesenter teëgekom het, het De Villiers gaste verbaas deur heel eerste die naam van die oud Bloubul senter, Ettiene Botha, te noem. Botha is in September 2005 in ’n motorongeluk oorlede. Hy het Ma’a Nono van Nieu-Seeland geïdentifiseer as sy moeilikste internasionale teenstander ooit.
