Local sportSport

Polisie rugbyklub vereer Frik du Preez

Hoewel die rugby-legende, Frik du Preez, eers in November vanjaar 80 jaar oud word, het die Pretoria Polisie rugbyklub besluit om hom nou reeds te vereer.

Toe die Internasionale Rugby Heldesaal in 1997 in Londen tot stand gebring is, was daar aanvanklik twee Suid-Afrikaners wat onmiddellik benoem en aanvaar is om daarin vereer te word. Saam met die legendariese dr. Danie Craven was Frik du Preez die ander Suid-Afrikaner wat op hierdie manier vereer is.

Eers jare later het ander Suid-Afrikaners soos Naas Botha, Danie Gerber en Joost van der Westhuizen se name gevolg.

Du Preez is een van slegs enkele sportsterre oor wie ondersteuenrs met mekaar kan praat deur slegs hul voorname te noem. Om ’n braaivleisvuur kan rugbyondersteuenrs net praat van “Frik”, “Naas” of “Joost” en die res sal presies weet na wie daar verwys word.

Baie Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers sal verbaas wees om te hoor dat Frik du Preez vanjaar in Novembermaand reeds 80 jaar oud word. Hy lyk besonder goed vir sy ouderdom en by gholfdae, waarna hy byna weekliks genooi word, speel hy gereeld nog ’n stewige potjie gholf saam met sy vriende.

Du Preez se sterstatus is natuurlik in Pretoria ’n paar kerwe hoër as op ander plekke in Suid-Afrika, juis omdat hy deur sy hele rugbyloopbaan ’n Pretorianer was. Hy was een van die eerste spelers van Noord-Transvaal (soos die Blou Bulle destyds bekend was) wat meer as 100 wedstryde in die Ligblou-trui gespeel het, maar anders as deesdae het provinsiale spelers in Du Preez se speeldae ook gereeld vir hul klubs uitgedraf. Du Preez was dus in die geledere van die Carltonbeker-klubliga ook bekend en bemind.

Die kameraderie wat onder spelers en administrateurs van alle klubs in daardie era bestaan het, is onlangs by ’n funksie van die Pretoria Polisie-rugbyklub weer bewys. Dié klub het sy jaarlikse prysuitdelingsgeleentheid onlangs by ’n restaurant in Pretoria aangebied, maar weens logistieke probleme wat einde November mag bestaan wanneer Du Preez 80 sal word, is daar deur die Pretoria Polisie-rugbyklub besluit om hom nou reeds met ’n geskenk te bederf.

Du Preez, wat in sy loopbaan hoofsaaklik vir Weermag- en Pretoria-rugbyklub gespeel het, was dus in sy speeldae ’n geswore opponent van die Bobbies. Met die hulp van Reshard Motani en Pieter Schoeman van Motani Meubels kon die Polisie-rugbyklub toe verlede week aan Du Preez ’n handgemaakte gemakstoel van egter leer as geskenk gee.

By die ontvangs daarvan het Du Preez op sy kenmerkende wyse ’n rugby-storie ten koste van die Bobbies vertel. Hy het vertel hoe Pretoria Polisie se partytjie bederf is in die vroeë sestigerjare van die vorige eeu, toe hulle net hul laaste ligabepaling teen Weermag moes wen om as Carltonbeker-kampioen gekroon te word. Toe Du Preez vroeër dié dag egter bewus word dat kos en drank reeds aangekoop is vir die partytjie na die wedstryd, het hy sy spanmaats by Weermag ekstra gemotiveer en hulle kon daarin slaag om die Bobbies te klop.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button