Local sportSport

Garsfontein verbeur hul kans in Tuks Super 16 reeks

Garsfontein se nederlaag teen EG Jansen in die Tuks Super 16 rugbyreeks beteken dat Pretorianers nog ’n jaar sal moet wag om weer ’n kans te hê om ’n kampioen in dié gesogte reeks op te lewer.

Pretorianers sal minstens nog ‘n jaar moet wag voor hulle weer die kans sal hê om te sien of een van die drie plaaslike deelnemers aan die Tuks Super 16-rugbytoernooi daarin kan slaag om as kampioen in die reeks gekroon te word.

Terwyl beide Waterkloof en Centurion hierdie gesogte skole-toernooi al in die verlede gewen het, is Pretoria se laaste hoop in vanjaar se reeks, Garsfontein, die afgelope naweek vir die tweede keer binne twee seisoene in die tweedelaaste fase uitgeskakel.

Garsfontein sal eerskomende naweek teen Nelspruit uitspeel om die derde en vierde plek te bepaal, nadat Garsfontein die afgelope naweek met 47-31 in die halfeindstryd deur Dr. EG Jansen geklop is.

Garsfontein het tot dusver vanjaar effens gesukkel om aan die gang te kom, maar in die kwarteindronde van die Tuks Super 16-toernooi het hulle baie goeie rugby gespeel deur Pietersburg met 46-17 af te stof. Verelde Vrydag was Garsfontein egter sy eie grootste vyand in die stryd teen die Boksburgers. Swak verdediging, ‘n gebrek aan intensiteit by die afbreekpunte en ‘n onvermoë om as eenheid saam te speel, het aan EG Jansen ‘n oorwinning besorg wat hom baie beter laat lyk het as wat hy werklik is.

Die Garsies se grootste probleem was gebrekkige samespel. Dis ‘n probleem wat hom die hele seisoen al pooitjie en ook in die onlangse Noord-vs-Suid toernooi laat sukkel het teen skole soos Paarl Gimnasium en Outeniqua van George. Hoewel Garsfontein oor puik individuele spelers beskik, sukkel die span om ‘n gevaarlike eenheid te vorm. Dit veroorsaak dat hy soms met groot gemak teen top-spanne punte aanteken, net om dan weer swak te verdedig en onnodige drieë af te staan. Garsfontein se vyf drieë in Vrydag se halfeindstryd teen EG Jansen het bewys dat Garsfontein kán meeding met die hoogaangeskrewe Oosranders, maar die feit dat Garsfontein self sewe drieë afgestaan het, vertel die volle verhaal.

* Eldoraigne se oorwinning van 43-10 oor Pietersburg beteken dat Eldoraigne eerskomende naweek in die laaste ronde vir die vyfde en sesde plekke teen Kempton Park sal uitspeel.

* Centurion het met 34-26 teen Marais Viljoen verloor en sal dus in die laaste ronde teen Transvalia uitspeel vir die elfde en twaalfde plek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button