Stoeiers van Akasia presteer
Verskeie stoeiers van die Akasia stoeiklub het oudergewoonte goeie rekenskap van hulself gegee by die onlangse nasionale President- en Meesterskampioenskappe.
Die Akasia stoeiklub se stoeiers het besonder goed presteer by die onlangse Suid-Afrikaanse President- en Meesterskampioenskappe.
Dié kampioenskappe is vanjaar weer in Gauteng-Noord se stoei-hoofkwartier in Menlopark aangebied.
In die President kampioenskappe het die klub twee medaljes verower, terwyl nog twee stoeiers baie goed gedoen het. Ivan Jansen van Vuuren het die goue medalje gewen in sy gewigsafdeling (97kg-120kg). Michael Koekemoer (54kg-58kg) het die brons medalje in sy afdeling gewen.
TJ du Plooy (46kg-50kg) en Bernard Chomse (36kg-39kg) was uitblinkers vir die klub, maar kon net nie daarin slag om medaljes te wen nie.
In die Meesters C-afdeling het Bernie van Deventer (76kg-85kg) weer goud gewen. Dit is die elfde keer dat hy as Suid-Afrikaanse kampioen in hierdie afdeling gekroon word.
Nico Kruger het in die Meesters B-afdeling (76kg-85kg) met die brons medalje terugekeer huis toe.
