Riana van Niekerk wen wedloop vir liefdadigheid
Die Om-Die-Dam kampioen en bekende Comrades marathon-atleet, Riana van Niekerk, het onlangs ’n liefdadigheidswedloop in Kaapstad gewen.
Riana van Niekerk van Centurion, een van die sterk kandidate om vanjaar ’n goue medalje by die Comrades marathon te wen, het verlede week die Kaapstadse been van die ‘Wings for Life World Run’ gewen.
In dié unieke wedloop spring die atlete 30 minute voor ’n motor weg. Dié motor, wat vir die Suid-Afrikaanse been deur die bekende renjaer, Geniel de Villiers, bestuur is, ry dan vir die eerste uur teen presies 15km/u. Daarna versnel dit elke uur met ’n paar km/u. Die atleet wat die verste vorder voor die motor hom of haar inhaal, is dan die wenner.
Van Niekerk het 55,2km ver gevorder voor die motor haar ingehaal het en daarmee het sy nie net die Suid-Afrikaanse wedloop gewen nie, maar haar afstand plaas haar tweede ter wêreld in hierdie reeks wedlope. Net Yooko Watanabe van Japan kon Riana tot duver klop, nadat sy 56km ver gehardloop het voor sy gavang is.
Hierdie wedloop-konsep, wat deur Redbull geborg word, samel geld in vir navorsing oor rugmurgbeserings. Daar het meer as 100 000 atlete reg oor die wêreld aan die wedlope deelgeneem.
