Local sportSport

Polisie en Centurion wys hul krag in Carltonliga

Die rugbyklubs van Centurion en Pretoria Polisie het die voortou geneem op die Carltonbeker puntelys, na puik oorwinnings die afgelope naweek teen onderskeidelik TUT en Tukkies.

Pretoria Polisie en Centurion se rugbyspanne het albei die afgelope naweek gewys dat Tukkies vanjaar hard sal moet werk as hulle hul titel as Carltonbeker kampioene suksesvol wil verdedig.

Die Bobbies het Tukkies in hul eerste tweestryd van die seisoen geklop, terwyl Centurion amok gemaak het teen TUT, wat enkele weke gelede nog na ’n ernstige kandidaat vir die halfeindrondte van dié gesogte liga gelyk het. Die twee spanne is tans bo aan die puntelys met vyftien punte elk na drie wedstryde. Centurion se beter punteverskil plaas hulle eerste, met die Bobbies in die tweede plek.

* Daar was groot afwagtig vir die eerste stryd van die seisoen tussen klubrugby in Pretoria se twee grootste aartsvyande, Pretoria Polisie en Tukkies. Polisie het dié taai stryd met 34-26 gewen.

Hoewel die studente nie naastenby ’n volsterkte Varsitybekerspan in die veld kon stoot nie, was daar tog heelwat sterre in hul geledere wat vanjaar nog in dié toernooi gespeel het.  Polisie, wat vanjaar ongelukkig was om nie die finaal van die Gemeenskapsbekertoernooi te haal nie, het egter gewys watter enorme waarde dié toernooi vir die standaard van klubrugby het.

Dit was ’n klipharde wedstryd tussen twee spanne wat albei met verskeie spelers in hul geledere spog wat maklik provinsiale rugby in die Vodacombekerreeks sal kan speel. Albei spanne het elk vier drieë gedruk, maar die verskil was uiteindelik die dodelik-akurate skopvoet van die Bobbies se losskakel, Dillen Laubscher. Hy het al vier drieë verdoel en nog twee strafdoele bygevoeg.   Tukkies se skopper, Jacques Rossouw, kon net drie doelskoppe suksesvol deur die pale jaag.

* Centurion het weer gewys dat hulle oorwinning teen Tukkies in die finaal van vanjaar se Assupol Klubreeks geen vloekskoot was nie. Dié span speel kookwaterrugby onder leiding van hul nuwe afrigter, Riaan Brand.

Die manne uit die suide van Pretoria het agt drieë teen TUT ingeryg om die wedstryd met 60-5 te wen. Hul haastige linkervleuel, Curtley Brinkhuis, het die helfte van dié drieë gaan druk toe hy vier keer agter die doellyn gaan kuier het.

* In die derde wedstryd van die afgelope naweek het Oostelikes’n naelskraapse oorwinning oor Harlequins behaal, toe hulle dié tweestryd met 16-14 gewen het.

Hoewel die Blokiestruie twee drieë gedruk het teenoor Oostelikes se een, was dit die skopvoet van die wenspan se regtervleuel, Duval Smit, wat hulle gehelp het om hierdie een deur te trek.

Eerskomende naweek sal Tukkies se krag weer getoets word wanneer hulle op hul tuisveld teen Centurion speel. Polisie en TUT pak mekaar op die TUT-kampus in Pretoria-Wes.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button