Local sportSport

Bulls begin hul toer met swak vertoning, verloor teen Blues

Met die Bulls se nederlaag in hul eerste wedstryd op hul toer in Nieu-Seeland en Australië het hulle enorme druk op hulself geplaas vir die res van hul veldtog in die SupeRugby toernooi.

Dit was veronderstel om ’n “maklike” begin vir hul toer na Australasië te wees, maar toe gaan maak die Bulls dit vir hulself moeilik met ’n baie swak vertoning teen ’n baie gemiddelde span.

Die Bulls het álles oorheers – die vaste fasette, balbesit én gebiedsvoordeel. Maar toe die eindfluitjie blaas was dit die Blues wat met 23-18 gewen het.

’n Mens wil nie graag spelers of manne in die bestuurspan uitsonder nie, maar iemand sal eenvoudig verantwoordelikheid vir hierdie swak vertoning moet aanvaar. Die Bulls het soms gelyk of hulle hierdie wedstryd op ’n drafstap kan wen, net om dan onnosel besluite met nog meer onnosel handelinge op te volg. Aan die ander kant was hul wedstrydplan skokkend.

Die tuisspan van Auckland is nie goed nie. Inteendeel, daar is ’n rede waarom hulle ten spyte van hierdie oorwinning steeds derdelaaste op die puntelys is. Maar hulle was ten minste aangeskakel en reg om rugby te speel. Hulle het letterlik net drie geleenthede gekry om drieë te druk en twee daarvan het hulle gebruik. By ’n ander geleentheid het George Moala die bal met ’n oop doellyn voor hom aangeslaan.

Die Bulls het egter ’n horde geleenthede gehad, veral as hul oorheersing van balbesit en gebiedsvoordeel in ag geneem word. Binne die eerste tien minute was daar reeds twee kanse, maar hulle het dit verbrou met swak of onnosel spel. By die een geleentheid is die drie van Marcel van der Merwe reeds toegeken, maar dis gekanselleer toe die TV-skeidsregter by nadere ondersoek vir Flip van der Merwe weens obstruksie uitgewys het.

Die grootste vraagteken oor die Bulls se spel is egter waarom hulle so baie balbesit weggeskop het. Die manne van Auckland kon hul geluk nie glo nie, want elke keer kon hulle daaruit besit verkry en die druk teen die Bulls laat opbou met teenaanvalle en baie goeie balretensie.

Die Bulls is sekerlik dankbaar vir die verloor-bonuspunt wat hulle uit die wedstryd kon kry, want daarmee is hulle terug in die eerste plek op die Suid-Afrikaanse puntelys in die toernooi. Hul hele veldtog is egter nou is die wegskaal, want hierdie toer gaan net moeiliker word.

Puntemakers: 

Blues: 23. Drieë: Loagi Visinia George Moala. Doelskoppe: Ihaia West (2). Strafdoele: Ihaia West (3). Bulls: 18. Drieë: Jan Serfontein (2).  Doelskoppe: Handré Pollard (1). Strafdoele: Handré Pollard (2).

Spanne

Blues: 15 Lolagi Visinia, 14 Ben Lam, 13 Francis Saili, 12 George Moala, 11 Melani Nanai, 10 Ihaia West, 9 Jamison Gibson-Park, 8 Steven Luatua (kaptein), 7 Brendon O’Connor, 6 Akira Ioane, 5 Culum Retallick, 4 Josh Bekhuis, 3 Charlie Faumuina, 2 James Parsons, 1 Tony Woodcock. Plaasvervangers: 16 Keven Mealamu, 17 Ofa Tu’ungafasi, 18 Sam Prattley, 19 Will Lloyd, 20 Blake Gibson, 21 Jimmy Cowan/Jamie Booth, 22 Simon Hickey, 23 Matt Vaega.

Bulls: 15 Jesse Kriel, 14 Francois Hougaard, 13 JJ Engelbrecht, 12 Jan Serfontein, 11 Bjorn Basson, 10 Handré Pollard, 9 Rudy Paige, 8 Pierre Spies (kaptein), 7 Arno Botha, 6 Pieter Labuschagne, 5 Victor Matfield, 4 Flip van de Merwe, 3 Marcel van der Merwe, 2 Adriaan Strauss, 1 Trevor Nyakane.

Plaasvervangers: 16 Callie Visagie, 17 Dean Greyling, 18 Werner Kruger, 19 Jacques du Plessis, 20 Deon Stegmann, 21 Burger Odendaal, 22 Jacques-Louis Potgieter, 23 Travis Ismaiel.

 

Skeidsregter: Mike Fraser

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button