Local sportSport

Polisie neem voortou in Carltonbeker

Terwyl die Carltonbeker se eerste rondte einde se kant toe staan het Pretoria Polisie nou die voortou geneem met volpunte op die puntelys in dié toernooi.

Terwyl die meeste spanne in die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker liga nog ten minste twee wedstryde moet speel in die eerste rondte van vanjaar se toernooi, het Polisie die afgelope naweek die alleen-voorlopers op die puntelys geword, ná hul groot oorwinning oor TUT.

Tukkies het op hulle beurt wraak geneem teen Centurion, nadat laasgenoemde hulle vroeër vanjaar in die eindstryd van die Assupol Klubreeks geklop het.

In die ander wedstryd van die naweek het Naka Bulle effens verras deur Harlequins te klop.

* Polisie het verwoesting gesaai deur nege drieë in te ryg teen TUT, wat hulle in staat gestel het om dié wedstryd met 63-5 te wen. Polisie se skerpskutter-losskakel, Dillen Laubscher, het al sy span se drieë verdoel. Die studente kon op hulle beurt net een drie druk in antwoord op die Bobbies se aanslag.

Met hierdie oorwinning het Polisie daarin geslaag om die voortou te neem op die puntelys. Wat hul posisie nog meer merkwaardig maak is die feit dat die Bobbies tot dusver in elke wedstryd ’n bonuspunt verdien het met ten minste vier drieë. Hulle het dus die maksimum ligapunte (20) in hul vier ligawedstryde tot dusver verdien.

* Die wedstryd tussen Centurion en Tukkies was baie taaier as wat die uitslag (26-17) aandui. Tukkies het wel vier drieë teen die enkele drie van Centurion gedruk, maar die student moes hard werk vir dié volpunte-vertoning.

Centurion se aggressiewe verdediging was juis een van die kenmerke van die wedstryd en dis opmerklik dat Tukkies se gevaarlike agterlyn, met die briljante provinsiale senter, Dries Swanepoel, aan die spits, net een keer die verdedigingslyn van Centurion kon breek. Drie van Tukkies se drieë is deur hul hardwerkende flank, Gerrit Engelbrecht, gedruk. Dié drie drieë het almal gekom vanaf dryfspel, waar Tukkies druk deur verskeie fases opgebou het.

Centurion se twee betroubare skoppers het hulle in die wedtsyrd gehou en teen die einde het hulle baie sterk geëindig. Daar was trouens groot ongelukkigheid in die Centurion-kamp toe die skeidsregter die wedstryd beëindig het kort na hul eerste drie, terwyl die amptelke elektroniese telbord in die Tuks rugbystadion gewys het dat daar nog drie minute se spel oor was. Centurion se voorspelers het op daardie stadium oorheers en hulle het duidelik geglo dat hulle ten minste ’n bonuspunt uit die wedstryd kon kry as hulle daarin sou slaag om weer punte aan te teken.

* Die stryd tussen Naka Bulle en Harlequins was ook hard en taai en ’n enkele drie was uiteindelik die verskil tussen die twee spanne.

Dit was ’n stryd tussen twee spanne met verskillende aanslae, maar die manne van die Moot se sterker en swaarder pak voorspelers het uiteindleik die deurslag gegee. Die twee spanne het egter gewys dat nie een van hulle sommer sal gaan lê nie en dat hulle beslis albei nog kandidate is vir ’n plek in die halfeindrondte, veral weens die feit dat die ligastryd vanjaar oor ’n dubbelrondte beslis gaan word.

* Eerskomende naweek vind drie wedstryde plaas, terwyl Tukkies en TUT Donderdag ook in ’n wedstryd betrokke sal wees. Die twee universiteite moet hul eersterondte-kragmeting hierdie week inpas, nadat dit vroeër weens die universiteitsvakansie verskuif is. Saterdag speel Polisie teen Naka Bulle, Oostelikes speel gasheer vir TUT en Harlequins durf Tuks aan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button