Nog ’n professionele bokstoernooi in Pretoria
Real Steel Promotors se nuutste professionele bokstoernooi in Pretoria sal op 6 Junie by die Presleys nagklub in Lynnwoodstraat aangebied word.
Real Steel Promosies gaan op 3 Junie vanjaar voort om hul belofte gestand te doen om professionele boks terug te bring na Pretoria.
Boksliefhebbers kan op dié dag uitsien na 10 professionele gevegte, waarvan twee vrouegevegte sal wees. Die toernooi, wat bekend sal staan as “Fight night at Presleys” word aangebied by die Presleys nagklub in Lynnwoodstraat in die ooste van Pretoria.
Van die beste boksers uit twee van Pretoria se top boksklubs sal dié aand in aksie wees en die eerste geveg sal om 19:00 begin. Die bekende gewese junior swaargewig wêrekldkampioen, Sebastian Rothmann, se gimnasium het drie opkomende jong boksers ingeskryf vir die toernooi.
Ryan Pretorius is ’n opwindende nuweling in die junior weltergewig afdeling. Hy sal getoets word teen Michael Mokoena, wat ook onlangs eers die amateurfrokkie weggepak het.
Martin Prinsloo is ’n baie belowende jong veergewig bokser, wat verlede jaar sy eerste professionele geveg gewen het. Hy boks teen die rateltaai Gerard Titus.
Rothman se ander bokser in die toernooi is die opkomende junior weltergewig vegter, Vincent Halliday.
Bokskenners sien ook uit na die terugkeer van Hansie Carr. Hy het in 2002 en 2003 groot opgang gemaak en hy was in sewe beroepsgevegte onoorwonne, voordat hy van die toneel verdwyn het. Carr maak sy terugkeer in die junior middelgewig afdeling teen Xolane Mvubu van KwaZulu-Natal.
Vier boksers van die HTS Tuine boksklub sal by die toernooi in aksie wees. Die klub sal ’n deelnemer is albei die vrouegevegte hê. Dit sal een van hulle, Liz Budler, se eerste geveg wees na die tragedie verlede jaar, waarin haar teenstander na ’n geveg haar bewussyn verloor het en later in die hospitaal oorlede is.
Een van dié klub se jong sterre, Sbusiso Zingange, sal in die hoofgeveg in die junior liggewig afdeling teen David Rajuili boks. Laasgenoemde is sewende op Boks SA se ranglys, maar Charles Backhouse, hoofafrigter van HTS Tuine glo dat Zingange dié geveg behoort te wen. Backhouse glo dat Zingange binnekort gereed sal wees om die Suid-Afrikaanse kampioen uit te daag.
