Laerskool Garsfontein se rugbyspan maak geskiedenis
Laerskool Garsfontein het Donderdagaand nie net Pretoria se top laerskole liga gewen met hul oorwinning oor hul buurskool, Constantiapark, nie, maar met dié sege het hulle ook ’n era afgesluit vir een van die suksesvolste rugbyspanne wat Pretoria ooit op dié vlak gesien het.
Sowat 2 000 toeskouers het Donderdagaand opgeruk na die Laerskool Garsfontein-rugbyveld vir een van die grootste en belangrikste rugby-derbies wat in ‘n baie lang tyd op laerskoolvlak in Pretoria plaasgevind het.
Die uitslag van hierdie wedstryd tussen Laerskool Garsfontein en Constantiapark sou ook vanjaar se wenner van die A-bond liga vir groot skole in Pretoria bepaal. Vir beide spanne sou dit die laaste ligawedstryd van die jaar wees, maar vir Laerskool Garsfontein se span was hierdie wedstryd baie meer. Dit sou die einde van ‘n era beteken vir dié suksesvolste rugbyspan wat hierdie spogskool ooit opgelewer het.
Hierdie besondere groep seuns het vier jaar gelede as o.10 knape bymekaargekom onder die afrigting van Lourens Coetzee en Louis Joubert. Sedertdien het hulle byna alles voor hulle platgevee en in die vier jaar wat hulle saamspeel het dié groep seuns nog net drie wedstryde verloor. Wat hul prestasie meer besonder maak, is dat hulle nog nooit ‘n amptelike ligawedstryd verloor het nie.
Op hul pad tot by hul laaste ligawedstryd het die groep seuns reeds tien trofeë ingepalm. In die huidige seisoen, wat ‘n toer na die Wes-Kaap ingesluit het, het hierdie span al 700 punte aangeteken, terwyl hulle net 32 afgestaan het.
Met die hulp van ondernemende ouers het hulle vroeër vanjaar genoeg geld ingesamel om twee volle spanne op hul Kaapse toer te neem. Daar het hulle teen die sterk span van Somerset-Wes hul derde wedstryd sedert 2012 verloor, maar kort daarna het hulle ‘n strawwe toernooi in George gewen. In dié toernooi moes hulle ses wedstryde in ‘n baie kort tyd speel.
Op hul pad na Donderdag se hoogtepunt het die span van Garsfontein vanjaar reeds in hul plaaslike liga met skole soos Elarduspark, Stephanus Roos, Hennopspark, Wierdapark, Lynnwood, Midstream en Cornwall Hill afgereken. Donderdag se klimaks sou dus die kroon span op ‘n stukkie laerskole rugbygeskiedenis wat nog nooit voorheen bereik is nie.
Die Garsies, met vier seuns in hul geledere wat reeds vanjaar vir die Blou Bulle se laerskoolspanne gekies is, het nie op hulle laat wag nie en na skaars drie minute se spel het hul een slot oorgebars vir die eerste drie van die wedstryd.
Hierna het Constantiapark gewys waarom hulle self nog die liga kon wen as hulle die wedstryd sou wen. Dié span het self puik rugby gespeel en ‘n taai stryd het geheers totdat Garsfontein se regtervleuel sekondes voor rustyd in die hoek oor is vir sy span se tweede drie. Nie een van die drieë is verdoel nie en dit sou ook die laaste punte van die wedstryd wees.
Die tweede helfte het klipharde rugby opgelewer en enige kenner sal ver moet gaan soek om beter gehalte rugby op laerskolevlak te sien as dit wat die toeskouers Donderdagaand op Laerskool Garsfontein se rugbyveld kon aanskou. Beide spanne se verdediging was puik, terwyl nie een van die twee spanne skaam was om die bal rond te gooi nie, ondanks die skielike winterreën wat oor Pretoria uitgesak het.
Garsfontein het uiteindelik met 10-0 gewen om hul rugbysprokie suksesvol af te sluit, maar Constantiapark het niks om oor skaam te voel nie. Wat wel seker is, is dat hierdie twee skole ‘n standaard op die rugbyveld gestel het wat liefhebbers van skolerugby opgewonde maak oor die toekoms van rugby op hierdie vlak.
Lees ook:
Nuwe toernooi bring top skolerugby na Pretoria
Sports highlights, 12 to 14 June
Groot rugbygees van Pretoria oorlede
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
