Polisie, Centurion wys hul krag met tien drieë elk in Carltonliga
Nadat Pretoria Polisie verlede naweek verrassend deur Naka Bulle geklop is in die Blou Bulle se gesogte Carltonliga, het hulle die afgelope naweek teruggebons met ’n kliniese vertoning teen Harlequins, waarin hulle tien drieë teen hul bure gedruk het.
Na die vorige naweek se opskuddings en verrassings in die Carltonbekerreeks het twee van die top drie spanne in die afgelope naweek se aksie gewys dat hulle nog stewig gefokus is in hul doelwit om vanjaar as Carltonbeker kampioene gekroon te word.
Met Tukkies en TUT was vir ’n wyle hul aandag by die nasionale studentesport toernooi (USSA) bepaal het, was dit Polisie en Centurion se kans om die res van die spanne te laat verstaan dat die tyd van opskuddings waarskynlik nou verby is.
* Pretoria Polisie het hul skok-nederlaag teen Naka Bulle van twee weke gelede opgevolg soos dit ’n kampioenspan betaam – hulle het tien drieë teen Harlequins ingeryg en hul arme bure van oorkant Totiusstraat met 62-18 kafgedraf.
Polisie se manne het duidelik ’n duur les geleer teen Naka Bulle, maar die doelgerigtheid, fokus en kliniese afronding wat hulle Saterdag teen Harlequins tentoongestel het, het bewys dat hulle daardie glips baie vinnig agter hulle gesit het. Soos dit verwag kan word van ’n span wat hul oog op die titel het, was hulle onmiddelik weer in die saal en hulle het aan hulself, hul ondersteuners en die res van die spanne in die kompetisie gewys waartoe hulle in staat is.
Harlequins is nie ’n swak span nie. Dit het hulle verlede week gewys met hul puik bonuspunt-oorwinning teen Oostelikes. Maar die Blokkiestruie het hulle Saterdag vasgeloop teen ’n verwoede klomp Bobbies wat duidelik die afgelope week ordentlik onder hul breier, Naas Rossouw, se gramskap deurgeloop het.
* Centurion het Saterdag op hul tuisveld teen Oostelikes ook kookwater rugby gespeel en, soos Polisie, tien drieë ingeryg vir hul oorwinning van 64-14.
Riaan Brand se manne het weer gewys dat niemand op hierdie stadium baie geld moet waag om teen hulle te wed as moontlike Carltonbeker kampioene nie. Centurion het seker een van die beste gebalanseerde spanne in die kompetisie, wat die vermoë het om meer as een soort rugby te speel. Vir ’n verandering is die meerderheid van hul drieë deur agterspelers gedruk. Saterdag het hulle dus nie nodig gehad om op die oorheersing van hul pak voorspelers en lynstaan-dryfbewegings of op hul puik stelskoppers se bydrae te steun nie, hoewel Stanley Twiname tog sewe van die drieë verdoel het om sy bydrae op 19 punte te staan te bring. Hy het ook een van die drieë gedruk.
* Eerskomende naweek speel die twee groot kanonne wat albei die afgelope naweek tien drieë gedruk het, teen mekaar. Dié wedstryd tussen Polisie en Centurion sal op Bobbies se tuisveld in Groenkloof plaasvind en dit kán teoreties ’n invloed hê op die bepaling van die span wat uiteindelik eerste op die punteleer eindig. Beide die twee spanne én Tukkies sal graag eerste wil eindig, want volgens alle aanduidigns sal dié span dan die “makliker” halfeindstryd kry teen die span wat vierde eindig. Die ander twee onder die top drie sal mekaar moet pak in die ander halfeind.
In nog een van eerskomende naweek se ander wedstryde sal Naka Bulle hul eie kanse om van agter te kom en uiteindelik vierde te eindig lewend wil hou deur Oostelikes deeglik te klop, maar laasgenoemde sal beslis nie sommer nou gaan lê nadat hulle byna die hele seisoen lank in die vierde plek was nie.
Die derde wedstryd van eerskomende naweek is tussen Tukkies en Harlequins. Die Blokkiestruie sal weer met ’n groot poging kom en selfs net een of twee bonuspunte uit die wedstryd probeer kry om sodoende nader te kruip aan Oostelikes met die oog op daardie gesogte vierde plek op die punteleer.
