Local sportSport

Polisie verseker hul deelname aan Gemeenskapsbeker met oorwinning oor Centurion

Terwyl Pretoria Polisie die afgelope Saterdag hul plek in volgende seisoen se Gemeenskapsbekerreeks bespreek het met hul oortuigende oorwinning oor Centurion, sal daar in die volgende paar weke ’n reuse stryd tussen drie spanne woed om in die belangrike vierde plek op die Carltonbeker punteleer te eindig.

Pretoria Polisie het Saterdag met ’n verbasend maklike oorwinning oor Centurion seker gemaak dat hulle die Blou Bulle wéér in dieGemeenskapsbeker toernooi sal verteenwoordig.

Na Centurion se nederlaag teen Polisie sal hulle beslis vanjaar derde op die puntelys eindig, maar hulle sal tot die laaste ligarondte op 6 Augustus moet wag om te weet wie van Polisie of Tukkies hul teenstander in die halfeindrondte gaan wees.

Intussen woed daar nog ’n hewige stryd om die vierde plek op die punteleer. Met die skielike opgang van Naka Bulle, wat die naweek oortuigend met Oostelikes afgereken het, bly die manne van die Moot se kanse lewend om die halfeindronde te haal, maar Harlequins is waarskynlik ’n kort kop voor hulle in dié wedloop.

* Van die titaniese stryd wat vooraf verwag is tussen Pretoria Polisie en Centurion het daar uiteindelik nie veel gekom nie. Daarvoor was Nico Luus en sy manne vir die tweede week agtereenvolgens net te klinies en hulle het Centurion redelik maklik met 37-7 (ses drieë teen een) oorrompel.

Centurion het een of twee manne se teenwoordigheid gemis en hulle was agterlangs veral effens rigtingloos sonder hul staatmaker senter Stanley Twiname se invloed in die middelveld, sowel as sy giftige skopvoet.

Polisie se oorheersing het egter voorlangs begin, waar hulle by die afbreekpunte baas was en die lynstane as goeie platvorm gebruik het om vanaf aan te val. Met die woelige flank, Ian van Deventer, en die veteraan haker, Birtie Powel, aan die voorpunt by die afbreekpunte het Polisie genoeg kwaliteit balbesit verseker vir hul gevaarlike agterlyn om mee aan te val en al ses hul drieë te druk.

Polisie se linkervleuel, Shaun Pienaar, het sy terugkeer tot die span na ’n lang afwesigheid met ’n driekuns gevier.

* In die Moot het Naka Bulle hul sterk eindpoging in die reeks voortgesit met ’n reuse oorwinning van 50-22 oor Oostelikes. Conrad Potgieter en sy manne het agt keer agter die doellyn gaan kuier in ’n wedstryde waarin die toeskouers met 12 drieë getrakteer is, aangesien Oostelikes self vier keer gaan druk het vir ’n baie belangrike bonspunt.

Naka Bulle sluit volgende week hul ligaverpligtinge af met hul laaste wedstryd teen Harlequins. Dit kan weereens ’n bepalende stryd wees, aangesien hulle bo die Blokkiestruie kan inskuif op die punteleer as hulle wen. Dan sal hulle waarskynlik ’n skaapbraai en ’n paar kaste bier aan die manne van TUT moet belowe om Harlequins in die laaste wedstryd op 6 Augustus van ligapunte te weerhou.

* Harlequins sal egter self met ’n reuse paar pogings vorendag kom in hul laaste twee bepalings, aangesien een goeie oorwinning hulle waarskynlik van daardie gesogte vierde plek op die punteleer sal verseker. Hulle het in hul nederlaag van 32-77 die afgelope naweek teen Tukkies gewys hulle bly ’n positiewe span, toe hulle vyf drieë teen die studente kon druk.

Tukkies het egter self 11 drieë gaan druk en gewys dat hulle nie sommer as Carltonbeker kampioene onttroon gaan word nie.

Al verloor Harlequins volgende week teen Naka Bulle, sal hul stryd teen TUT op 6 Augustus waarskynlik deurslaggewend wees. Naka Bulle en Oostelikes (wat volgende week gaan sukkel om in hul laaste wedstryd teen Tukkies ligapunte te kry) het elk net een wedstryd oor, terwyl Harlequins nog twee bepalings het om af te handel.

* Eerskomende naweek speel Harlequins teen Naka Bulle op eersgenoemde se tuisveld in Groenkloof. Centurion reis na Pretoria-Wes vir hul laaste ligaverpligting teen TUT, terwyl Tukkies in die alternatiewe reeks teen Rustenburg Impala sal uitdraf.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button