Local sportSchool sportSport

Min te kies tussen Oosies en Ovies in Stadsbeker eindstryd

Saterdag se Stadsbeker eindstryde op Loftus Versfeld sal afgesluit word met die groot stryd tussen die eerstespanne van Hoërskool Overkruin en Hoërskool Oos-Moot. Rekord het met die twee kapteins gesels en weeg die twee spanne teen mekaar op.

Eerskomende Saterdag (25 Julie) is die groot dag vir die rugbyspanne van Pretoria se klein-, medium- en groot skole, wanneer al die eindstryde in vanjaar se Stadsbeker liga op Loftus Versfeld se vier rugbyvelde beslis word.

Die hoofwedstryd van die dag is tussen die eerstespanne van Hoërskool Oos-Moot en Hoërskool Overkruin, wat mekaar om 12:30 in die eindstryd vir grootskole sal pak. Dié twee spanne het vanjaar kop en skouers bo al hul opposisie uitgestaan en daar is min te kies tussen die twee voor die groot finaal. Elke span het sy eie sterkpunte en dit sal ’n groot waagtuk wees om vooraf ’n wenner te voorspel.

Hoe min daar tussen die twee spanne te kies is word geillustreer deur die feit dat albei nog net een keer vanjaar verloor het. Overkruin het in die eerste ligawedstryd van die die jaar teen Oos-Moot met een punt verloor, terwyl Oos-Moot weer naelskraaps teen HTS John Vorster (Makro skool) verloor het. Op hulle beurt het Overkruin weer daarin geslaag om HTS John Vorster vroeër vanjaar met twee punte (19-17) te klop.

Oos-Moot beleef vanjaar ’n baie goeie seisoen. Saterdag sal hulle met vier spanne opruk na Loftus Versfeld om so veel as moontlik stadsbekers in die verskillende ouderdomsgroepe te probeer wen. Dié skool se o.14’s, o.15’s, o.16’s én eerstespan het almal deurgedring na die eindrondte.

Die o.14’s (Loftus D) en o.15’s (Loftus C) speel Saterdag in hul onderskeie eindstryde teen Hoërskool Pretoria-Noord. Die o.16’s (Loftus B) se teenstanders in Hoërskool Tuine.

Eindstryde is vir die meerderheid van Oos-Moot se eerstespanspelers geen vreemde ervaring nie. Die kern van dié span kom al vyf jaar saam en hulle het reeds die Stadsbeker op o.14, o.15 en o.16 vlak gewen. Hulle is ook vroeër vanjaar as kampioene by die gesogte Hansieweek aangewys. Dié span se sterkpunt is beslis die goeie samespel van hul pak voorspelers. As hulle daarin sou slaag om Overkruin voorlangs te oorheers, soos hulle met die meerste ander spanne vanjaar gedoen het, sal die middag lank raak vir die manne van die Noorde.

Oos-Moot het die stadsbeker vir groot skole laas in 2011 gewen.

Anders as Oos-Moot het slegs Overkruin se eerstespan vir die eindstryd gekwalifiseer. Dié span het egter self ’n besonder goeie seisoen beleef en, soos genoem, nog net teen Oos-Moot verloor.

Overkruin het die stadsbeker vir groot skole in 2005 vir die eerste en enigste keer in hul geskiedenis gewen. Daarna het hulle voortgegaan om ook die algehele Beeldtrofee te wen toe hulle Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi naelskraap met 13-10 geklop het.

’n Interessante feit van daardie prestasie van Overkruin tien jaar gelede is dat die nuwe Curriebeker afrigter van die Blou Bulle, Nollis Marais, dié span afgerig het.

Overkruin beskik oor ’n goed gebalanseerde span en hoewel hul voorspelers as eenheid nie dieselfde indruk gemaak het as Oos-Moot in die halfeindrondte nie, beskik hulle oor puik individuele spelers wat die skaal in hul guns kan draai. Hier dink ’n mens aan agtsteman en kaptein, Marius Nell, en die woelige haker, Dehan Groenewald.

 

Die spanne:

Oos-Moot: 15. Mechiel Adendorff, 14. Therance Kingsburgh, 13. Tiaan Bedford, 12. Ronald van der Wetering (kaptein), 11. Jean-Pierre Alberts, 10. Gert Nel, 9. Johan Marais, 8. Jaenre Esterhuizen, 7. Jason Martins, 6. Ruhan Viljoen, 5. Louis du Toit, 4. Jonovan du Plessis, 3. Frikkie Deysel, 2. Nico Heystek, 1. Marcel Scholten.

Overkruin: 15. Janneman Ferreira, 14. Tyran Lottering, 13. Francois Bezuidenhout, 12. Rikus Brink, 11. JJ Scheepers, 10. Jacques Janse van Rensburg, 9. Ettiene Bezuidenhout, 8. Marius Nell (kaptein), 7. Lee Jordaan, 6. Rudolph de Jager, 5. Llewellyn Kennedy, 4. Freislich van der Westhuizen, 3. Tiaan Theron, 2. Dehan Groenewald, 1. Ronnie Yu.

Kyk die videos hier:

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button