Local sportSchool sportSport

Groot sukses vir Oos-Moot in Stadsbeker ligas

Oos-Moot se rugbyspanne het Saterdag in hul onderskeie eindstryde van die Stadsbeker liga byna skoonskip gemaak, toe hulle drie titels gewen en een gedeel het.

Die Hoërskool Oos-Moot se eerste span is die nuwe houer van die Stadsbeker vir groot skole in Pretoria, nadat hulle die Hoërskool Overkruin Saterdag met 20-12 geklop het.

Oos-Moot se rugbyspanne het boonop so byna daarin geslaag om skoonskip te maak in al vier die eindstryde waarin hulle in die groot skole liga gespeel het. Al vier Oos-Moot se spanne (o.14’s, o.15’s, o.16’s en eerste span) het Saterdag in hul onderskeie eindstryde gespeel.

Behalwe vir die eerstespan se oorwinning het Oos-Moot se o.16’s ook maklik met Hoërskool Tuine (29-3) afgereken, terwyl die o.14’s hul eweknieë van Hoërskool Pretoria-Noord met 20-19 geklop het. Oos-Moot se o.15’s moes egter die Stadsbeker met Pretoria-Noord deel, nadat dié twee spanne gelykop gespeel het in hul eindstryd. Nie een van hulle kon punte aanteken nie. Dié twee spanne se wedstryd is egter in gure weersomstandighede gespeel en op een stadium tydens die wedstryd het dit selfs gehael op Loftus Versfeld.

Gelukkig het die weer opgeklaar vir die wedstryd tussen Oos-Moot en Overkruin se eerstespanne, wat weens die weersomstandighede effens later as die geskeduleerde tyd begin het. Die eerste helfte het ’n klipharde en taai stryd opgelewer. Overkruin het eerste punte aangeteken toe hul skrumskakel, Ettiene Bezuidenhout, ’n baie mooi beweging afgerond het om te gaan druk.

Halfpad deur die eerste helfte het Oos-Moot teruggeslaan met ’n puik stukkie individuele spel deur hul gevaarlike buitesenter, Tiaan Bedford. Dit het die rustydteling op 7-5 in die guns van Oos-Moot te staan laat kom.

Overkruin het waarskynlik op daardie stadium verdien om voor te loop, aangesien hulle voorspelers verbasend goed gedoen het in die eerste helfte. Hul losvoorspelers en woelige haker, het die afbreekpunte oorheers en met omgekeerde besit het hulle veral Oos-Moot se gevaarlike agterlyn van baie momentum beroof. Overkruin se dryfspel was ook goed.

Oos-Moot het egter in die tweede helfte tegnies beter gespeel en Overkruin het ’n paar foute gemaak wat hulle uiteindelik die wedstryd gekos het. Elke span het in die tweede helfte weer een keer gaan druk. Vir Overkruin is hul puik haker, Dehan Groenewald beloon met ’n drie, terwyl Oos-Moot se tweede drie deur Therance Kingsburgh waarskynlik die hoogtepunt van die wedstryd was.

Die verskil tussen die twee spanne was uiteindelik die skopvoet van Oos-Moot se kaptein en binnesenter, Ronald van der Weteren. Hy het twee strafdoele oorgeskop, terwyl hy ook albei drieë verdoel het.

Albei hierdie spanne gaan nou voort met deelname aan die Noordvaal Beeldtrofee reeks. Oos-Moot kwalifiseeer direk vir die kwarteindrondte op 8 Augustus, waar hulle teen die wenner van Klerksdorp en Piet Retief sal speel, terwyl Overkruin eerskomende naweek teen Potchefstroom Gimnasium moet uitspeel om vir die kwarteindrondte te kwalifiseer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button