Garsies, Oos-Moot in Beeldtrofee halfeind, Affies verniel Boys High
Terwyl Affies ’n rekord-oorwinning oor Boys High behaal het, het drie van Pretoria se aanspraakmakers in die Beeldtrofee se makro-skole afdeling hul kwarteindrondte kragmetings verloor.
Pretoria se hoop op sukses in beide die afdelings vir makro skole en groot skole in vanjaar se Beeldtrofee reeks is die afgelope naweek ’n gevoelige slag toegedien, nadat drie van die plaaslike kandidate in die eersgenoemde afdeling in die kwarteindrondte uitgeskakel is.
Slegs twee kandidate – een in elke afdeling – bly nog oor om Pretorianers se vlam van hoop lewend te hou om kampioene in beide afdelings te kan oplewer. In die afdeling vir middelskole duur die Pretoria Tecnical High School se sprokie-seisoen ook nog voort. Hulle het Schweizer Reineke met 27-5 geklop om deur te dring na die halfeindrondte.
Garsfontein se oorwinning van 48-36 oor Nelspruit het hulle na die halfeindrondte in die makro skole afdeling laat deelneem, terwyl Oos-Moot se sege oor Klerksdorp (18-14) beteken dat die Moot se eie Ligbloues ook nog in die wedloop vir die groot skole titel is. In beide hierdie wedstryde het die Pretorianers verlede jaar se kampioene in hul onderskeie afdelings uitgeskakel.
Die drie skole wat nie die kwarteindrondte in die afdeling vir makro skole kon oorleef nie, is Waterkloof, Menlopark en Eldoraigne. Vanjaar se Tuksreeks kampioene, Dr. EG Jansen, het Waterkloof met 26-22 geklop, Monument het Eldoraigne met ’n naelskraapse oorwinning van 26-24 uitgeskakel en Menlopark se seisoen is deur die Rooi Bulle van HTS Middelburg (33-18) beëindig.
Garsfontein speel nou eerskomende naweek in Krugersdorp teen Monument om te probeer kwalifiseer vir die makroskole eindstryd van dié reeks.
Oos-Moot beleef self een van daardie seisoene waaroor jare lank nog gespog sal word. Hul eerste span het die afgelope Saterdag met Klerksdorp afgereken om volgende week teen Helpmekaar te kan voortveg in die halfeindrondte van die afdeling vir groot skole. Intussen het dié skool se ander spanne ook almal deurgedring na hul onderskeie halfeidstryde. Oos-Moot se o.16’s, o.15’s en o.14’s speel almal eerskomende naweek vir ’n plek in die eindstryde wat op 22 Augustus beslis sal word.
* Van die verwagte groot stryd in Pretoria se grootste jaarlikse derby tussen Pretoria Boys High en Afrikaans Hoër Seunsskool het daar die afgelope naweek toe nie veel gekom nie. Trouens, dit was heelmiddag eenrigtingverkeer in die Brooksfield stadion op Boys High se terrein. Affies het dié wedstryd met ’n rekordtelling van 56-3 gewen. Hulle het nege drieë ingeryg deur hul bure met puik hardlooprugby te oorrompel. Die rekordboeke is herskryf weens die punteverskil van 53, wat die grootste is in dié 92-jaar oue geskiedenis van hierdie derby tussen die twee skole.
