Local sportSport

Hof verwerp Naka Bulle se interdik-aansoek teen Blou Bulle

Naka Bulle, die Carltonbeker rugbyklub in die Moot van Pretoria, se dringende hofaansoek om ’n inderdik te kry om die Blou Bulle se Carltonbeker halfeindrondtes van eerskomende naweek te laat uitstel, het misluk.

Regter Vivian Tlhapi het Donderdag middag die dringende aansoek van die Naka Bulle rugbyklub om eerskomende naweek se Carltonbeker halfeindstryde onbepaald uit te stel, met koste van die hand gewys.

Dié klub, wat een van die sewe klubs in die Blou Bulle se Carltonbeker liga is, is in ’n dispuut met die Blou Bulle gewikkel oor ligapunte wat van hulle weggeneem is, nadat twee spelers se foto’s nie in ’n wedstryd op 16 Mei vanjaar teen Harlequins op hul spanlys verskyn het nie. Naka Bulle se hoofargument was dat ’n tegniese fout weens tekortkominge met die Blou Bulle se nuwe stelsel vir die probleem verantwoordlik was.

Aan die ander kant het die Blou Bulle geargumenteer dat Naka Bulle bloot versuim het om die spelers korrek te registreer en dat dít ’n oortreding was van die amptelike kompetisiereëls. Uiteindelik het die kompetisiekomitee se voorsitter, Henry Adendorff, die besluit geneem om die uitslag van die wedstryd, wat met 17-10 deur Naka Bulle gewen is, nietig te verklaar. Daarna is die vier ligapunte wat Naka Bulle verdien het van hulle ontneem, terwyl Harlequins volpunte (5 ligapunte) gekry het asof hulle die wedstryd 40-0, met ’n bonuspunt vir vier drieë, gewen het.

Na die laaste ligaverpligtinge het Harlequins uiteindelik (danksy die ommeswaai van 8 ligapunte weens die gebeure ná 16 Mei) met 23 ligapunte in die vierde plek en Naka Bulle met 21 ligapunte in die vyfde plek op die puntelys geëindig.

As hierdie insident nie plaasgevind het nie, sou Naka Bulle dus in die vierde plek op die puntelys geëindig het met 25 punte, terwyl Harlequins in die sesde plek sou wees. Oostelikes (20 ligapunte) sou dus ook voor Harlequins geëindig het.

Regter Tlhapi het begin deur te verklaar dat sy niks van rugby en rugby-administrasie weet nie en haar dus net op die oortuiging van die regsverteenwoordigers en die sterkte van die ingediende hofstukke moet verlaat. Sy het baie vroeg in die verhoor reeds duidelik gemaak dat sy nie oortuig is dat die saak dringend is nie, aangesien Naka Bulle volgens haar genoeg tyd gehad het om, sedert die voorval op 16 Mei, die saak voor die hof te bring.

Adv. Erasmus, wat namens Naka Bulle opgetree het, het aanvanklik baie tyd spandeer om te verduidelik waarom dit gebeur het dat die aansoek eers in die week voor die halfeindrondtes ingedien kon word. Naka Bulle was byvoorbeeld tot voor Harlequins se laaste wedstryd teen TUT nog vierde op die puntelys en tegnies was daar nog ’n kans dat hulle in elk geval vir die halfeindrondte sou kwalifiseer.

Die Blou Bulle se advokaat, JB Maritz, het onder andere geredeneer dat die saak steeds ná die afhandeling van die halfeindrondtes en eindstryd kon voortgaan en dat dit tegnies moontlik is om al dié wedstryde se uitslae nietig te verklaar indien Naka Bulle ’n saak oor die gebeure van 16 Mei in die hof sou wen.

Na adv. Erasmus se repliek het dit gelyk of Naka Bulle se saak baie sterk oorgekom het. Regter Tlhapi het egter verras met haar uiteindelike uitspraak, waarin sy die aansoek summier en met koste verwerp het.

Ian Herbst, voorsitter van Naka Bulle rugbyklub, het na die uitspraak aan Rekord gesê hy is teleurgesteld, maar nie platgeslaan nie. Hy het gesê hulle oorweeg wel om voort te gaan met die saak, omdat dit vir hulle oor die beginsel daarvan gaan. Volgens Herbst glo hy dat, al sou hulle ook weer verloor, die Blou Bulle se administrasie as gevolg hiervan meer inklusief en demokraties sal wees en dat hulle “twee keer sal dink voordat soortgelyke besluite oor die toepassing van kompetisiereëls geneem word.”

Adv. Chrales van Staden, adjunk voorsitter van Naka Bulle, het gesê hulle sal al hul opsies oorweeg en dan binnekort ’n besluit neem oor die saak na konsultasie met hul regsverteenwoordigers. Hy het beklemtoon dat die regter geen uitspraak oor enige meriete van die saak gemaak het nie, maar dat sy slegs beslis het dat die saak nie as dringend beskou kan word nie.

Henry Adendorff, adjunk president van die Blou Bulle en die enigste amptenaar van die unie wat in die hof teenwoordig was, wou geen kommentaar lewer nie en het Rekord na dr. Eugene Hare, hoof uitvoerende beampte van die Blou Bulle Rugby-unie verwys. Dr. Hare het eerstens gesê dat hy bitter jammer is dat die saak so ver soos die Hooggeregshof moes gaan en hy het dit ’n “laagtepunt in my loopbaan as rugbyadministrateur” genoem.

Dr. Hare het ook gesê hy beskou die uitspraak as ’n bewys dat sy kantoor se administasie in orde is. Volgens hom kan hy nie oor enige meriete van die saak kommentaar lewer nie, omdat hy ’n administrateur is wat slegs die reëls en regulasies toepas wat deur die bestuur van die unie bepaal is.

Die Blou Bulle se halfeindrondtes sal Saterdag op Loftus Versfeld se B-veld plaasvind. Polisie en Centurion speel om 15:00 in die eerste wedstryd, terwyl Tukkies en Harlequins om 17:00 aan die beurt kom.

 

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button