Local sportSport

Blou Bulle wys karakter teen begeesterde Griekwas

Die Blou Bulle is steeds op die wenpad in die Curriebeker toernooi, nadat hulle Griekwas Vrydagaand oortuigend op Loftus Versfeld geklop het.

Dit was ’n wedstryd van twee helftes en in die eerste helfte het die Blou Bulle groot geskrik toe die Griekwas hulle soos ’n Poublou golf getref het om rustyd met 12-6 voor te loop.

Na rustyd het die Ligboues egter weer die tipe spel gelewer wat hulle verlede week in staat gestel het om die Cheetahs so oortuigend te klop. Hulle het dié helfte uiteindelik met vier drieë teen geen gewen en kon daarna met ’n eindtelling van 36-12 spog.

Hierdie vertoning beteken ook ’n tweede agtereenvolgende bonuspunt-oorwinning vir die Blou Bulle, wat hulle na twee weke se Curriebekerrugby eerste op die puntelys plaas.

Daardie eerste helfte het egter getroue Bloubul ondersteuners se oë laat rek en sekerlik ook ’n paar laat wonder of die “nuwe” Bulle van Nollis Marais dan só gou weer Flou Bulle sou word. Griekwas het behoorlik, om van die Engelse spreuk te leen, met alles behalwe die kombuiswasbak op die Bulle afgestorm. Hulle het die vaste skrums en die afbreekpunte oorheers en sodoende nie toegelaat dat die Blou Bulle enige momentum opbou  nie.

Dis nie dat Lappies Labuschagne en sy manne nie probeer het nie. Trouens, hulle het hul oomblikke gehad in daardie eerste helfte en daar was selfs die keer toe Warrick Galant oor die doellyn kon draf vir ’n drie, maar die TV skeidsregter het besis daar was ’n vorentoe aangee in die voorafgaande beweging.

Griekwas het egter hul taktiek puik uitgevoer en daardeur kon hulle op die Bulle se foute teer en twee keer gaan druk.

Na rustyd het ’n mens die idee gekry dat die Noord-Kapenaars se bene effens swaar word. Die Bulle het boonop beter geskrum nadat Dean Greyling die veld verlaat het, terwyl Lappies Labuschagne, Deon Stegmann (wat baie dapper vir byna 40 minute lank met ’n gebreekte wangbeen gespeel het) en Jaco Visagie die afbreekpunte begin oorheers het en die Bulle momentum kon opbou. Toe begin die drieë ook kom.

Eers is Dayan van der Westhuizen in die hoekie oor na hy, as voorryman, hakskene gewys het vir die Griekwas se agterspelers. Daarna het Tian Schoeman en Francois Hougaard kort na mekaar gaan druk. Twee minute voor die eindfluitjie was dit Jamba Ulengo se beurt om vir die bonuspunt-drie oor te duik.

PUNTEMAKERS:

Blou Bulle: 36. Drieë: Dayan van der Westhuizen, Tian Schoeman, Francois Hougaard, Jamba Ulengo. Doelskoppe: Tian Schoeman 2. Strafdoele: Tian Schoeman 4.

Griekwas: 12. Drieë: Ruhan Nel, Ntabeni Dukisa. Doelskop: Gouws Prinsloo.

SPANNE:

Blue Bulls: 15 Warrick Gelant, 14 Travis Ismaiel, 13 William Small-Smith, 12 Burger Odendaal, 11 Jamba Ulengo, 10 Tian Schoeman, 9 Francois Hougaard, 8 Hanro Liebenberg, 7 Pieter Labuschagne (kaptein), 6 Deon Stegmann, 5 Marvin Orie, 4 Jacques du Plessis, 3 Werner Kruger, 2 Jaco Visagie, 1 Dean Greyling.
Plaasvervangers: 16 Bandise Maku, 17 Dayan van der Westhuizen, 18 Rudolph Snyman, 19 Roelof Smit, 20 Ivan van Zyl, 21 Louis Fouche, 22 Dries Swanepoel.

Griekwas: 15 Gouws Prinsloo, 14 Ruhan Nel, 13 Jonathan Francke, 12 Michael Van Der Spuy, 11 Ntabeni Dukisa, 10 Riaan Viljoen, 9 Tian Meyer (kaptein), 8 Carel Greeff, 7 Hilton Lobberts, 6 RJ Liebenberg, 5 Hugo Kloppers, 4 Jonathan Adendorf, 3 Stephan Kotze, 2 Abraham Le Roux, 1 Danie Mienie.
Plaasvervangers: 16 Martin Bezuidenhout, 17 Ewald Van Der Westhuizen, 18 Jaco Nepgen, 19 Leon Karemaker, 20 Rudi Van Rooyen, 21 Clinton Swart, 22 Jacquin Jansen.

Skeidsregter: Quinton Immelman
Assistent skeidsregters: Sindile Nqcese, Archie Sehlako

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button