Local sportSport

Dis wéér Tuks teen Polisie in Carltonbeker eindstryd

Na ’n week van omstredenheid, waar rugbyadministasie ’n draai in die hof moes maak, was Saterdag se halfeindstryde in die Carltonbeker liga inderdaad ’n antiklimaks.

Vir die sesde keer die afgelope tien seisoene sal Tukkies en Polisie op 22 Augustus in die eindstryd van vanjaar se Carltonbeker toernooi sake uitspook.

Dit volg nadat dié twee klubs die afgelope Saterdag onderskeidelik met Centurion en Harlequins afgereken het.

* Polisie en Centurion se wedstryd was eerste aan die beurt. Centurion het eerste bloed geruik toe hul haastige vleuel, Curtly Brinkhuis, ’n aangee van Polisie onderskep het om onder die pale te druk.

Naas Rossouw se Bobbies is egter een van die mees ervare klubrugby spanne in die land en die kern van hierdie span speel al baie seisoene saam. Hulle het nie paniekerig geraak na die vroeë terugslag nie en kort voor lank het Ruan van Loo in die regterhoek oorgeduik vir hul eerste drie.

Polisie het daarna die grootste deel van die wedstryd oorheers en hoewel Centurion voorlangs hul man gestaan het, was hulle nie opgewasse teen Polisie se vaardighede agterlangs nie. Ook by die afbreekpunte het Polisie sake begin oorheers en dit sal niemand verbaas as ’n man soos die woelige flank, Ian van Deventer, vanjaar nog vir een van die kleiner unies in die Curriebeker reeks uitdraf nie.

Uiteindelik het die Bobbies net te veel skietgoed gehad en hulle het nog twee keer agter die doellyn gaan kuier om die eindtelling op 27-10 te staan te bring.

* Hoe minder daar oor die wedstryd tussen Tukkies en Harlequins gesê word, hoe beter. Dit maak nie saak hoe daar probeer word om rondom dié saak te redeneer nie, maar daar sal altyd gewonder word of die opkomende span van Naka Bulle nie dalk vir ’n verrassing sou kon sorg in dié halfeindstryd nie. Hulle spelkurwe was immers opwaarts en hulle is saam met Tukkies die enigste span wat Polisie vanjaar kon klop.

Die Hooggeregshof het egter die laaste sê gehad en verlede week is Naka Bulle se dringende aansoek om ’n interdik te kry teen dié halfeindwedstryde van die hand gewys. In die toekoms sal almal dus onthou dat die span wat entlik vierde moes eindig (suiwer op grond van hul prestasies op die veld) dié voorreg ontneem is en dat die span wat eintlik sesde sou eindig, weens ’n tegiese punt die halfeindrondte gehaal het.

Tukkies het gevolglik op ’n drafstap gemors met Harlequins. Hulle het nege drieë ingeryg (in ’n halfeindstryd!) en uiteindelik met 63-5 gewen.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button