Hengelkompetisie vir gestremdes weer aangebied
Dis weer tyd vir Ramcat se jaarlikse hengelkompetisie vir gestremdes in Irene.
Ramcat Fishing, is geen gewone welsynsorganisasie nie. Dié organisasie spits hom daarop toe om nie net geld in te samel om gestremdes te help nie, maar ook sosiale geleenthede te reël waarby veral mense wat aan rolstoele gekluister is kan deelneem.
Ramcat se jaarlikse hengelkompetisie vir gestremdes is nou reeds welbekend. Dié kompetisie word jaarliks by die Irene Country Lodge se dam gehou en dis ’n dag waarop gestremdes nie net die geleentheid kry om in kompetisie met mekaar te hengel nie, maar ook uitermate getrakteer te word deur Gerard Smal, ook bekend as Yster, en al sy helpers.
Vanjaar word Ramcat se bekende hengelkompetisie vir gestremdes op Saterdag 12 September oudergewoonte by die Irene Country Lodge aangebied. Slegs gestremde persone sal kan deelneem, maar hulle word uitgenooi om so veel as moontlik vriende en familie saam te bring om die dag langs die dam te geniet.
Gestremde hengelaars wat vir die kompetisie inskryf word dié dag op die hande gedra. Die verrigtinge begin reeds om 06:30 en al die deelnemers eet eers saam aan ’n heerlike ontbyt, wat deur die lodge se personeel voorberei word. Teen 14:00 sal die kompetisie amptelik verby wees en dan sal die pryse uitgedeel word.
Daar sal deur die loop van die dag vermaak aangebied word, maar uit ondervinding het Ramcat se personeel geleer om harde musiek te vermy. Middagete word ook bedien en dit is, soos die ontbyt, ingesluit by die inskrywingsgeld vir die hengelaars.
Deelnemers word toegelaat om hul eie geheime respepte vir die aas te gebruik, maar aas sal ook verskaf word. Elke deelnemer is egetr verantwoordelik vir sy eie stokke.
Smal het aan Rekord gesê dat hulle vanjaar ook wil probeer om meer familie, vriende en ander ondersteuners te lok om die dag saam met die hengelaars deur te bring. “Veral die vrouens is baie welkom en ons werk aan ’n konsep om hulle ook by die verrigtinge te betrek. Hou dus die media dop”, het Smal gesê.
Vir enige navrae en inskrywings, skakel Gerard Smal by 082-337-9064.
