Driekuns vir Tukkies in Carltonbeker toernooi
Tukkies het Pretoria Polisie Saterdag op Loftus Versfeld in ’n klipharde Carltonbeker eindstryd geklop om hul derde agtereenvolgende titel in dié gesogte reeks in te palm.
Tukkies se eerste rugbyspan is wéér die Carltonbeker kampioene, nadat hulle Pretoria Polisie Saterdag op Loftus Versveld in die eindstryd van dié toernooi met 44-15 geklop het om die titel vir die derde jaar agtereenvolgens te wen.
Tukkies het die wedstryd op ’n stewige gallop begin en hul groot sterk agterspelers het gou gewys dat hulle sake vir Polisie se manne moeilik gaan maak agterlangs. Van die heel eerste agterlynbeweging af het Tukkies se regtervleuel, Abri Reynolds, sy man geklop en buitesenter, Vian Riekert, kon agter die doellyn gaan afrond voor daar nog twee minute verstreke was op die telbord-horlosie.
Toe Reynolds sewe minute later ’n strafdoel deur die pale jaag en Tukkies se voorsprong tot 10-0 rek, wou dit lyk of Tukkies redelik maklik daarin sou slaag om hul titel as Carltonbeker kampioene te verdedig.
Nico Luus en sy manne laat egter nie so maklik met hulle mors nie. Hulle het na dié strafdoel begin terugveg en vir die volgende kwartier lank spel oorheers. Hulle is beloon deur ’n puik drie deur flank Ian van Deventer en was inderwaarheid ongelukkig om in daardie tydperk nie nog ’n paar keer deur te kom nie.
In die laaste tien minute voor rustyd het Tukkies egter sterk teruggekom in die wedstryd en hul vaardige en vinnige agterspelers het Polisie by twee geleenthede geklop om te gaan druk.
Teen rustyd was die studente reeds 25-10 voor en dit sou ’n groot terugvegpoging van die Bobbies verg om wéér terug te kom in die wedstryd. Toe Polisie boonop enkele minute na die afskop van die tweede helfte hul veteraan kaptein en slot, Luus, verloor, was die skrif aan die muur.
Kort daarna het Tukkies se seepgladde skrumskakel, Emile Temperman, 50 meter ver genael vir sy span se vierde drie, wat die punteverskil op 20 punte te staan laat kom het.
Hierna het Polisie weer probeer terugveg, maar hulle het eenvoudig nie genoeg kwaliteit balbesit gekry om Tukkies se goedgevestigde struktuur te uitoorlê nie. Manne soos die veteraan haker, Birtie Powel en agtsteman Luka van Biljon het hulle harte uitgespeel en enduit weerstand probeer bied, maar as ’n eenheid was Tukkies net soveel beter.
Tot Polisie se krediet het hulle nooit opgegee nie. Tien minute voor die eindfluitjie het buitesenter Heinrich Rademeyer se drie hulle effens hoop gegee, maar Tukkies het byna onmiddelik teruggeslaan met ’n drie na ’n lynstaan dryfbeweging.
Toe Tukkies ’n minuut voor die eindfluitjie weer ná ’n lynstaan oordryf, was Polisie reeds ’n oorwonne span en Tukkies kon spog met hul sesde Carltonbeker titel van die afgelope tien jaar.
